2 Kronieke 29

29
Hiskia herstel die tempeldiens
1Hiskia was 25 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het 29 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Abia, ’n dogter van Sagaria. 2Hy het die Here gedien, net soos Dawid.
3In die eerste maand van sy eerste regeringsjaar het Hiskia die tempel laat oopsluit en die deure reggemaak. 4Hy het die priesters en Leviete op die plein oos van die tempel bymekaargeroep 5en vir hulle gesê: “Leviete, luister na my! Maak julleself rein en maak dan die tempel van die Here, die God van julle voorouers, baie goed skoon. Haal al die vieslike goed uit die tempel uit en vat dit weg. 6Ons ouers was ongehoorsaam aan die Here. Hulle het slegte dinge gedoen wat vir Hom onaanvaarbaar was. Hulle het opgehou om die Here in sy tempel te dien. 7Hulle het die ingangsdeure van die tempel gesluit, die lampe doodgeblaas, opgehou om wierook te brand en glad nie meer offerdiere in die heiligdom van Israel se God geoffer nie. 8Daarom het die Here baie kwaad geword vir Juda se mense. Hy het ons tot spot onder al die nasies gemaak, soos julle self beleef. 9Dít is hoekom ons voorouers in oorloë doodgemaak is en waarom ons seuns, ons dogters en ons vroue gevangenes in ander lande is. 10Maar nou wil ek ’n ooreenkoms met die Here, die God van Israel, sluit. Ek wil hê Hy moet ophou kwaad wees vir ons. 11Begin dadelik werk, my seuns! Die Here het julle gekies om vir Hom te werk. Julle moet die erediens lei en tot sy eer wierook brand.”
12Die volgende Leviete het onmiddellik aan die werk gespring: Uit die Kehatfamilie: Magat, Amasai se seun en Joël, Asarja se seun; uit die Merarifamilie: Kis, Abdi se seun en Asarja, Jehallelel se seun; uit die Gersonfamilie: Joag, Sima se seun en Eden, Joag se seun; 13uit die Elisafanfamilie: Simri en Jeïel; uit die Asaffamilie: Sagaria en Mattanja; 14uit die Hemanfamilie: Jegiël en Simi; uit die Jedutungroep: Semaja en Ussiël.
15Hulle het al die ander Leviete bymekaargemaak. Daarna het hulle hulleself skoongemaak en toe die koning se opdrag uitgevoer: hulle het die tempel presies volgens die reëls van die Here skoongemaak. 16Die priesters het in die tempel ingegaan en alles skoongemaak. Hulle het die vuil goed uitgebring na die voorhof toe. Daar het die Leviete dit gevat en buite die stad in die Kidronvallei gaan weggooi. 17Die skoonmaakwerk het op die eerste dag van die eerste maand begin. Binne agt dae het hulle tot by die voorhof skoongemaak. Dit het nog agt dae gevat om die tempel self skoon te maak en na sestien dae was alles klaar.
18Hulle het vir koning Hiskia gesê: “Ons het die tempel klaar skoongemaak. Alles is weer op hulle plek: die altaar vir die brandoffers met al die gereedskap wat daar gebruik word, asook die tafel waarop die offerbrood neergesit word met al sy gereedskap.
19“Ons het ook al die gereedskap teruggekry wat koning Agas gevat het. Hy was ongehoorsaam aan die Here. Dit is alles weer op hulle plek voor die Here se altaar.”
Die tempel word weer in gebruik geneem
20Vroeg die volgende oggend het koning Hiskia die stad se leiers bymekaargemaak. Hulle het na die tempel toe gegaan. 21Hulle het sewe bulle, sewe skaapramme, sewe lammers en sewe bokramme gebring om te slag. Dit was ’n offer vir die Here. Op hierdie manier wou hulle om verskoning vra vir die sondes van die koning se familie, en ook ter wille van die tempel en die mense van Juda. Priesters uit Aäron se nageslag het die diere op die Here se altaar geoffer. 22Hulle het toe die beeste geslag en hulle bloed teen die altaar uitgegooi. Daarna het hulle dieselfde met die skaapramme en toe met die lammers gedoen. 23Die bokramme was bedoel om die sonde weg te neem. Daarom het die priesters die bokke tot voor die koning en die ander mense gebring wat saam met hom daar was. Hulle almal het hulle hande op die bokke gesit. 24Daarna het die priesters die bokke geslag en hulle bloed teen die altaar uitgegooi om al Israel se sonde voor God weg te neem. Die koning het gesê dat hierdie brandoffers en die sondeoffers vir die hele Israel se sondes bedoel is.
25Toe het Hiskia die Leviete met hulle simbale, harpe en liere by die tempel laat aantree. Hy het dit gedoen presies volgens die Here se opdragte wat Dawid deur die siener Gad en die profeet Natan ontvang het. 26Die Leviete het nader gestaan met die musiekinstrumente wat Dawid laat maak het, en die priesters met trompette. 27Toe het Hiskia beveel dat die offer op die altaar verbrand moes word. Toe die offer begin, het die Leviete tot die Here se eer begin sing en die trompette geblaas. Dit is begelei deur musiek wat op die instrumente van Dawid, Israel se koning, gemaak is. 28Die hele vergadering het die Here vereer. Die sang en trompetspel het aangehou totdat die offers klaar was.
Die normale diens by die tempel begin weer
29Toe die brandoffer klaar was, het die koning en al die mense neergekniel en die Here vereer. 30Koning Hiskia en sy amptenare het die Leviete gevra om van die lofliedere van Dawid en die siener Asaf te sing. Hulle het dit met vreugde gedoen en toe het hulle die Here aanbid.
31Hiskia het gesê: “Nou is die wydingseremonie klaar. Bring nou weer julle diereoffers en julle dankoffers na die tempel toe.”
Die mense het toe diere gebring om te eet, asook dankoffers. Dié wat bereid was, het diere gebring om as brandoffers te verbrand. 32Daar is toe 70 bulle, 100 ramme en 200 lammers as brandoffers vir die Here verbrand. 33Die heilige geskenke was 600 beeste en 3 000 stuks kleinvee. 34Die priesters was te min om al die brandoffers af te slag. Die Leviete het kom help tot al die werk gedoen was en totdat meer priesters hulleself vir die tempelwerk skoongemaak het. 35Daar was verskriklik baie brandoffers, drankoffers en die vet van die offerdiere wat geëet sou word, wat alles verbrand moes word. Op dié manier is die diens aan die Here by die tempel weer hervat. 36Hiskia en al die mense was bly oor alles wat God vir hulle gedoen het. Hy het gesorg dat alles by die tempel vinnig weer herstel is.

Tans Gekies:

2 Kronieke 29: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid