1 Samuel 14:1-15

1 Samuel 14:1-15 DB

Op ’n dag sê Jonatan, Saul se seun, vir sy wapendraer: “Kom ons gaan daar oorkant na die Filistyne se wagte toe.” Maar hy het nie vir sy pa gesê hy gaan dit doen nie. Op daardie stadium was daar so 600 man by Saul net buite Gibea. Saul self het onder die heilige granaatboom in Migron gesit saam met die priester Agija, wat vir die Here moes vra wat hulle moet doen. Niemand het geweet dat Jonatan weg was nie. (Agija was een van die priesters van Silo. Sy pa was Agitub, Ikabod se broer. Sy oupa was Pinehas, Eli se seun.) Aan elke kant van die bergpas waar Jonatan moes oorgaan om by die Filistyne se wagte uit te kom, was daar ’n rotskoppie. Die een rotskoppie se naam was Boses, en die ander een s’n Senne. Die spits rotskoppie is aan die noordekant duskant Mikmas, die ander een aan die suidekant duskant Gibea. Jonatan sê toe vir sy wapendraer: “Kom ons gaan na die wagte van daardie klomp heidene. Dalk help die Here ons. Dit maak mos nie saak of ons baie of min mense is nie, die Here kán ons laat wen.” “Maak soos jy goeddink,” antwoord die wapendraer, “ek volg jou.” “Goed,” sê Jonatan, “kom ons loop só na daardie manne toe dat hulle ons sien. As hulle vir ons sê: ‘Wag daar tot ons by julle is,’ bly ons staan waar ons is; dan klim ons nie op na hulle toe nie. Maar as hulle sê: ‘Klim op hier na ons toe,’ dan klim ons op, want dan is dit vir ons die teken dat die Here hulle aan ons oorgegee het.” Die twee loop toe openlik na die wagte toe. “Kyk daar,” sê die Filistyne, “die Hebreërs kruip uit hulle gate uit!” “Kom op hier na ons toe,” skree hulle vir Jonatan en sy wapendraer,” dan wys ons julle ’n ding of twee!” “Volg my,” sê Jonatan vir sy wapendraer, “die Here het hulle aan die Israeliete oorgegee.” Jonatan het hande-viervoet teen die kop uitgeklim met sy wapendraer kort agter hom. Hy het die Filistyne platgeslaan, en sy wapendraer het hulle agter hom doodgesteek. Daar is omtrent twintig man dood in hierdie eerste aanval van Jonatan en sy wapendraer. Die lyke het sommer bymekaar gelê. Paniek het onder die Filistyne in die kamp losgebreek. Dié wat in die veld was, die ander wagte wat uitgesit was en die manskappe wat die Israeliete moes beroof, het hulle ook lam geskrik. Toe daar nog ’n aardbewing ook kom, was hulle doodbenoud.