1 Samuel 10:17-27

1 Samuel 10:17-27 DB

Samuel het die volk bymekaargeroep by die Here se altaar in Mispa. Hy het vir die Israeliete gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek self het julle, die Israeliete, laat wegtrek uit Egipte en Ek het julle vrygemaak van die mag van die Egiptenaars en van al die ander regerings wat julle onderdruk het.’” Verder sê Samuel: “Maar julle, Israeliete, het nou die rug vir God gedraai, dié God wat julle altyd uithelp wanneer daar rampe is en julle moeilikheid het. Julle het mos gesê: ‘Nee, stel ’n koning oor ons aan!’ Kom staan dan nou hier voor die Here volgens julle stamme en families.” Toe Samuel al die stamhoofde van Israel by die altaar laat staan, is die stam van Benjamin geloot. Toe die familiehoofde van die stam van Benjamin na die altaar kom, is die familie van Matri geloot. Uiteindelik is Saul, Kis se seun, geloot. Maar toe hulle hom soek, is hy nie daar nie! Daarop vra hulle vir die Here: “Is die man wat geloot is hier?” Die Here se antwoord was: “Ja, hy kruip tussen die bagasie weg.” Hulle het hom gou daar gaan haal, en toe hy tussen die ander mense staan, was hy ’n kop langer as hulle. Samuel sê toe vir die volk: “Sien julle wie het die Here gekies? Daar is nie nog een soos hy nie.” Daarop skree die volk: “Lank lewe die koning!” Samuel het vir die volk die reëls van die koningskap verduidelik en dit op ’n rol geskryf wat hy in die tempel neergesit het. Daarna het hy almal huis toe gestuur. Saul is ook na sy huis in Gibea toe. ’n Klompie dapper mans is saam met hom, want die Here het hulle elkeen se hart geroer. Maar ’n klomp niksnutte het gesê: “Moet dié vent ons uit die moeilikheid kry?” Hulle het nie respek vir hom gehad nie en het nie eers ’n geskenk vir hom gevat nie. Saul het hom maar doof gehou.