1 Petrus 1:18-21

1 Petrus 1:18-21 DB

Julle is nie mense wat net vir hierdie wêreld leef en vir wat julle daaruit kan kry nie. Dinge het mos heeltemal vir julle verander. Vroeër was julle, soos julle voorouers, mense wat in ’n geestelike tronk gesit het. Soos mense vasgevang agter tralies het julle ’n doellose en leë lewe gelei. Toe het Jesus die boete kom betaal wat die geestelike tronkdeure vir julle laat oopswaai het. Julle kon weer regtig begin lewe. Hy het nie die boete met goud of sakke vol geld betaal nie, want sulke goed sal later hulle waarde verloor. Nee, Hy het met sy eie bloed betaal, en wat ’n groot prys was dit nie! God self het baie lank terug, voor die wêreld nog gemaak is, besluit dat Jesus dit sou doen. Hy moes die volmaakte Lam vir die perfekte offer wees, sonder enige fout. ’n Beter offer kan daar nie wees nie. Julle het nou die voorreg om te sien hoe God sy plan hier aan die einde ter wille van julle uitvoer. Julle kan op God vertrou, omdat julle gesien het wat Hy vir Jesus gedoen het. Hy het Jesus uit die dood opgewek en aan Hom eer en baie hoë status gegee. Net God kan dit doen. Julle kan God dus vertrou. Julle kan maar seker weet dat Hy dit alles iewers in die toekoms ook met julle sal doen.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid