1 Konings 12:6-15

1 Konings 12:6-15 DB

Rehabeam het toe met die ouer en ervare mans wat nog vir sy pa gewerk het, gaan gesels. “Wat dink julle moet ek vir die mense sê?” het hy gevra. Hulle het geantwoord: “As u werklik vir hierdie mense omgee, maak dan die lewe vir hulle makliker, en hulle sal u altyd getrou dien.” Rehabeam het egter die ouer mans se raad summier verwerp. Hy wou eerder hoor wat die jonger mans sê, die mans wat saam met hom grootgeword het en wat nou belangrike posisies beklee het. “Hoe dink julle moet ek die mense antwoord?” het Rehabeam hulle gevra. “Hulle vra dat ek hulle las moet ligter maak, maar wat sê julle daarvan?” Die jong mans het geantwoord: “Sê vir hulle: ‘My pinkie is dikker as my pa se middel.’ En as hulle vir jou vra wat dit beteken, moet jy sê: ‘My pa het die lewe vir julle moeilik gemaak, maar ek gaan dit nog moeiliker maak; hy het julle met ’n sweep geslaan, maar ek sal julle met gesels slaan.’” Drie dae later het Jerobeam en die noorde se mense weer bymekaargekom. Hulle was gretig om te hoor wat Rehabeam gaan antwoord. Omdat Rehabeam die ouer mans se raad verwerp het, het hy hard en lelik met die mense gepraat. Omdat hy die jonger mans se raad gevolg het, het hy sonder enige tegemoetkomendheid gesê: “My pa het julle swaar laat kry, maar ek sal julle nog swaarder laat kry. Hy het julle met ’n sweep geslaan, maar ek gaan julle met gesels slaan.” Dinge het presies gebeur soos die Here deur die profeet Agija van Silo vir Jerobeam gesê het. Dit is waarom Rehabeam nie eens na die ouer mense wou luister nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid