1 Korintiërs 2

2
Die kruis is God se krag
1My liewe vriende, onthou julle nog toe ek die eerste maal daar by julle aangekom het? Toe ek julle van God se wonderlike planne kom vertel het, het ek nie met lang stories wat mooi klink of ingewikkelde redenasies gekom nie. 2Ek het dit doelbewus eenvoudig gehou: ek het julle van Jesus Christus kom vertel, die Jesus wat aan die kruis dood is. 3Ek was nie voor op die wa nie. Om die waarheid te sê, ek was maar skrikkerig, want ek het geweet ek is nie iemand wat belangrik of invloedryk is nie. 4Ja, my boodskap was eenvoudig. Dit was nie ’n klomp hoë woorde wat ’n mens se kop laat draai of so geleerd klink dat jy maar net ja en amen sê nie.
In plaas daarvan om na slim argumente te luister kon mense eerder sien hoe kragtig die Gees van God werk. 5Julle vertroue op God en sy boodskap staan dus nie op die wankelrige pilare van mense se slim idees nie, maar dit staan vierkant op die krag van God.
Selfs die slimstes is nie slim genoeg vir God nie
6Ek praat met julle oor baie diep dinge wat julle lewe diep beïnvloed. Net mense wat daarvoor ryp is, kan dit regtig verstaan. Dit is nie populêre dinge of dinge wat die belangrike mense baie beïndruk nie. Hierdie mense leef in elk geval maar net ’n rukkie en dan gaan hulle manier van lewe saam met hulle dood. 7Nee, die boodskap wat ek bring, is dit wat regtig waar en reg is. Dit is soos God bedoel het ons lewe moet wees. Niemand het mooi besef presies hoe dit sou wees nie, want God het dit geheim gehou tot nou toe. Nog voor die wêreld geskape is, het Hy al hierdie dinge spesiaal net vir ons reggemaak. 8Nie een van die leiers van hierdie wêreld het ’n idee waaroor God se planne gaan nie. As hulle ’n idee gehad het, sou hulle nie die Here wat soveel goddelikheid uitgestraal het, aan ’n kruis vasgeslaan het om daar te sterf nie. 9Daar is mos geskryf:
“Niemand het nog ooit so iets gesien of gehoor nie. In sy wildste drome kon niemand nog ooit homself so iets voorstel nie. Ek praat van al die dinge wat God reggemaak het vir die mense wat Hom liefhet.”
Die Gees is in julle en leer julle
10Ons weet nie hierdie dinge sommer vanself nie. God het dit vir ons met behulp van sy Gees kom verduidelik. Die Heilige Gees weet alles, tot alles wat in God se diepste gedagtes aangaan. 11Dit is net soos met ’n mens. Niemand weet wat binne-in jou omgaan behalwe jou gees nie. Net so weet niemand wat binne-in God omgaan behalwe God se Gees nie. 12Juis hierdie Gees het God vir ons gegee. Hy het nie sommer ’n gewone gees vir ons gegee wat niks van Hom af weet nie. Omdat ons God se Gees in ons het, kan ons presies begryp wat God so onverdiend vir ons gegee het. Die Gees vertel ons immers daarvan. 13Ons vertel julle dus nie allerhande slimmighede wat ons by ander mense gehoor of in boeke gelees het nie. Wat ons julle vertel, het ons by die Gees self geleer. Dit is God se geestelike boodskap.
14Iemand wat net op ’n menslike vlak bly dink en net glo wat mense kan verklaar, sal nie ’n woord van God se geestelike boodskap wil aanvaar nie. Dit sal nie vir hom sin maak nie en hy sal nie kan verstaan hoe op aarde dit moontlik kan wees nie. Die fout lê by hom en nie by die dinge wat hy nie kan verstaan nie. Hy is die een wie se oë heeltemal toe is vir die geestelike dinge. Net die Heilige Gees kan hierdie dinge vir ’n mens duidelik maak. 15Iemand wat die Heilige Gees in sy lewe het, sal weet wat om van al hierdie dinge te dink. Hy sal geestelik sensitief wees, al sal die ongelowige mense hom nie verstaan nie.
16Die Skrif sê mos:
“Wie weet wat binne-in die Here omgaan sodat hy vir Hom kan sê wat om te doen?”
Ons wat sy Gees het, ken Jesus deur en deur.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

Video vir 1 Korintiërs 2