1 Kronieke 12

12
Soldate wat vroeg reeds by Dawid aangesluit het
1Die volgende manne het in Siklag reeds by Dawid aangesluit. Hy was toe nog voortvlugtend en het weggekruip vir Saul, die seun van Kis. Hulle was dapper manne wat saam met Dawid geveg het. 2Hulle was uitgelese boogskutters, wat ’n pyl en boog én ’n slingervel ewe vaardig met die linker- of die regterhand kon hanteer.
Van Saul se stamgenote uit Benjamin: 3Agiëser, die leier, en Joas, Semaä se seuns uit Gibea; Jesiël en Pelet, Asmawet se seuns; Beraka en Jehu uit Anatot, 4Jismaja uit Gibeon, ’n dapper vegter en leier onder die Dertigtal; Jeremia, Jagasiël, Joganan en Josabad uit Gedera; 5Elusai, Jerimot, Bealja, Semarja en Sefatja uit Garif; 6Elkana, Jissija, Asarel, Joëser en Jasobam uit Korag; 7Joëla en Sebadja, Jerogam se seuns uit Gedor.
8Uit die stam van Gad het daar ook dapper soldate na Dawid toe oorgeloop. Hy was toe nog in sy vesting in die wildernis. Hulle was goed toegerus om met skild en spies te veg, so vreesloos soos leeus en so vinnig soos bokke in die berge.
9Eser was die leier, Obadja was tweede in bevel en Eliab derde, 10Mismanna vierde, Jeremia vyfde, 11Attai sesde, Eliël sewende, 12Joganan agtste, Elsabad negende, 13Jeremia tiende, Makbannai elfde.
14Hierdie soldate uit Gad was leërbevelvoerders; die swakste een van hulle sou hom kon handhaaf teen 100 soldate, die sterkste teen 1 000. 15Dit was hulle wat die Jordaanrivier in die reëntyd, toe dit in vloed was, oorgesteek het. Hulle het toe die mense verjaag wat weerskante van die rivier gebly het.
16Toe daar soldate uit Benjamin en Juda aangekom het om by Dawid in sy vesting aan te sluit, 17het hy vir hulle gesê: “As julle in vrede gekom het om my te help, sal julle in my ’n vriend hê. Maar as julle hier is om my aan my vyande te verraai terwyl ek onskuldig is, mag die God van ons voorouers dit raaksien en julle straf.”
18Amasai, ’n leier in die Dertigtal, is deur die Gees in besit geneem en hy het gesê:
“Ons is vír u, Dawid!
Ons is aan u kant, seun van Isai!
Vrede! Vrede vir u!
Vrede ook vir dié wat u help,
want u God help u!”
Dawid het hulle toe aanvaar en as offisiere in sy leër aangestel.
19Toe Dawid saam met die Filistyne teen Saul gaan veg het, het daar ’n groep soldate uit die stam van Manasse by hom aangesluit. Dit het egter nie so uitgewerk nie, want die Filistynse leiers het besluit om Dawid terug te stuur. Hulle het geredeneer: “Dis te gevaarlik. As hy na sy koning Saul toe oorloop, kan dit ons ons lewe kos.”
20Hier is ’n lys name van die mense uit Manasse wat na Dawid toe oorgeloop het, terwyl hy na Siklag toe op pad was: Adnag, Josabad, Jediael, Migael, Josabad, Elihu en Silletai, elkeen in bevel van omtrent 1 000 soldate van Manasse. 21Hulle het Dawid help veg, want hulle was goeie soldate en het offisiere in sy leër geword.
22Daar het dag vir dag mense by Dawid aangesluit om hom te help. Só het sy bende algaande tot ’n baie groot leër gegroei.
Die soldate wat Dawid se koningskap help vestig het
23Hier volg die getalle van gewapende soldate wat hulle in Hebron by Dawid aangesluit het. Hulle was daar om Saul se koningskap aan Dawid oor te dra, soos die Here beveel het.
24Uit die stam van Juda: 6 800 ten volle gewapende manne met skild en spies;
25uit die stam van Simeon: 7 100 soldate, gereed om oorlog te maak;
26uit die stam van Levi: 4 600 soldate; 27asook Jojada, ’n leier uit die familie van Aäron met 3 700 man by hom 28en Sadok, ’n jong, strydlustige soldaat met 22 familielede wat almal offisiere was;
29uit die stam van Benjamin, Saul se stamgenote: 3 000. Die meeste van hulle het tot in hierdie stadium getrou gebly aan Saul.
30Uit die stam van Efraim: 20 800 soldate, gereed om oorlog te maak. Hulle was beroemd in hulle familie.
31Uit die halwe stam van Manasse: 18 000 soldate wat spesifiek aangewys is om Dawid te kom koning maak.
32Uit die stam van Issaskar: 200 leiers met al hulle familielede onder hulle bevel. Hulle was mense wat neigings en rigtings met wysheid kon beoordeel en kon aanbeveel wat Israel moes doen.
33Uit die stam van Sebulon: 50 000 soldate wat goed toegerus was en gereed was om oorlog te maak. Hulle was volkome lojaal aan Dawid.
34Uit die stam van Naftali: 1 000 bevelvoerders met 37 000 man, almal toegerus met skild en spies;
35uit die stam van Dan: 28 600 gewapende soldate;
36uit die stam van Aser: 40 000 gewapende soldate, gereed om oorlog te maak. 37Van oorkant die Jordaan af was daar uit die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam 120 000 soldate, almal toegerus met hulle wapens.
38Al hierdie soldate was in volle gereedheid en het na Hebron gekom met een doel voor oë: om vir Dawid koning oor Israel te maak. Trouens, die hele Israel het saamgestem dat hulle Dawid as koning wou hê. 39Hulle het drie dae lank saam met Dawid geëet en gedrink, want hulle volksgenote het die fees vir hulle voorberei. 40Daar het selfs ekstra kos van so ver as die gebiede van Issaskar, Sebulon en Naftali af gekom. Ekstra vyekoeke, rosyntjiekoeke, wyn en olie, bees- en skaapvleis is op donkies, kamele, muile en beeste aangebring fees toe, want daar was groot vreugde in Israel.

Tans Gekies:

1 Kronieke 12: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan