PSALMS 88

88
In groot donkerheid!
1 'n LIED. 'n Psalm van die kinders van Korag. Vir die musiekleier; op die wysie van: „Máhalat leannot.” 'n Onderwysing van Heman, die Esrahiet.
2 Here, God van my heil, bedags roep ek, in die nag is dit voor U.
3Laat my gebed voor u aangesig kom, neig u oor tot my smeking.
4Want my siel is sat van teëspoede, en my lewe raak aan die doderyk.
5Ek word gereken by die wat in die kuil neerdaal; ek het geword soos 'n man sonder krag,
6vrygelaat onder die dooies, soos die wat verslaan is, wat in die graf lê, aan wie U nie meer dink nie, en wat afgesny is van u hand.
7U het my gesit in die kuil diep daaronder, in duisternisse, in dieptes.
8U grimmigheid rus op my, en U druk my neer met al u golwe. Sela.
9U het my bekendes ver van my verwyder, my iets afskuweliks gemaak vir hulle; ek is ingesluit en kan nie uitkom nie.
10My oog vergaan van ellende. Here, ek roep U aan die hele dag deur, ek brei my hande na U uit.
11Kan U aan die dooies 'n wonder doen? Of kan skimme opstaan, kan hulle U loof? Sela.
12Kan u goedertierenheid vertel word in die graf, u trou in die plek van vertering?
13Kan u wondermag in die duisternis bekend word en u geregtigheid in die land van vergetelheid?
14Maar ék, Here, roep U aan om hulp, en in die môre kom my gebed U tegemoet.
15 Here, waarom verstoot U my siel, verberg U u aangesig vir my?
16Van jongs af is ek ellendig en klaar om te sterwe; ek dra u verskrikkinge, ek is radeloos.
17U toorngloed het oor my gegaan; u verskrikkinge vernietig my;
18die hele dag omring hulle my soos water, saam omsingel hulle my.
19U het vriend en metgesel ver van my verwyder; my bekendes is duisternis.

Tans Gekies:

PSALMS 88: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan