PSALMS 84:1-12

PSALMS 84:1-12 AFR53

VIR die musiekleier; op die Gittiet. Van die kinders van Korag. 'n Psalm. Hoe lieflik is u woninge, o HERE van die leërskare! My siel verlang, ja, smag na die voorhowe van die HERE; my hart en my vlees jubel uit tot die lewende God. Selfs vind die mossie 'n huis en die swaweltjie 'n nes vir haar, waar sy haar kleintjies neerlê, naamlik u altare, HERE van die leërskare, my Koning en my God! Welgeluksalig is hulle wat woon in u huis; hulle prys U gedurig. Sela. Welgeluksalig is die mens wie se sterkte in U is, in wie se hart die gebaande weë is. As hulle deur die Droë Laagte trek, maak hulle dit 'n fonteinland; ook oordek die vroeë reën dit met seëninge. Hulle gaan van krag tot krag; elkeen van hulle sal verskyn voor God in Sion. HERE, God van die leërskare, hoor my gebed; luister tog, o God van Jakob! Sela. O God, ons skild, kyk en aanskou die aangesig van u gesalfde. Want 'n dag in u voorhowe is beter as duisend; ek wil liewer by die drumpel staan in die huis van my God as om te woon in die tente van goddeloosheid. Want die HERE God is 'n son en skild; die HERE sal genade en eer gee; Hy sal die goeie nie onthou aan die wat in opregtheid wandel nie.

Gratis leesplanne en oordenkings oor PSALMS 84:1-12