PSALMS 5:1-12

PSALMS 5:1-12 AFR53

VIR die musiekleier; met fluite. 'n Psalm van Dawid. O HERE, luister na my woorde, let op my versugting. Gee ag op die stem van my hulpgeroep, my Koning en my God, want tot U bid ek. In die môre, HERE, sal U my stem hoor; in die môre sal ek dit aan U voorlê en afwag. Want U is nie 'n God wat behae het in goddeloosheid nie; die kwaaddoener sal by U nie vertoef nie. Die onsinniges sal voor u oë nie standhou nie; U haat al die werkers van ongeregtigheid. U sal die leuensprekers laat omkom; van die man van bloed en bedrog het die HERE 'n afsku. Maar ek, deur die grootheid van u goedertierenheid mag ek in u huis ingaan, my buig na u heilige tempel, in u vrees. HERE, lei my in u geregtigheid om my vyande ontwil; maak u weg voor my reg. Want in hulle mond is niks betroubaars nie; hulle binneste bring onheil; hulle keel is 'n oop graf; hulle maak hul tong glad. Verklaar hulle skuldig, o God! Laat hulle val deur hul planne; dryf hulle weg oor die menigte van hul oortredinge, want hulle is wederstrewig teen U. Maar laat húlle almal bly wees wat by U skuil; laat hulle vir ewig jubel, en beskut U hulle; en laat in U juig die wat u Naam liefhet.