U dreig die vermeteles as gevloektes wat van u gebooie afdwaal.
Wentel smaad en veragting van my af, want u getuienisse het ek bewaar.
Al sit vorste en beraadslaag teen my — u kneg oordink u insettinge.
Ja, u getuienisse is my verlustiging, my raadsmanne.
My siel kleef aan die stof; maak my lewend na u woord.
My weë het ek vertel, en U het my verhoor; leer my u insettinge!
Laat my die weg van u bevele verstaan, dat ek u wonders kan oordink.
My siel drup weg van kommer; rig my op na u woord.
Verwyder van my die weg van leuens, en verleen my genadiglik u wet.
Ek het die weg van waarheid verkies; u verordeninge het ek voor my gestel.
Ek kleef u getuienisse aan; o HERE, maak my nie beskaamd nie!
Ek sal op die weg van u gebooie wandel, want U verruim my hart.
HERE, leer my die weg van u insettinge, sodat ek dit tot die einde toe kan bewaar.
Gee my verstand, dat ek u wet kan bewaar, ja, dit kan onderhou van ganser harte.
Laat my wandel op die pad van u gebooie, want daarin het ek 'n behae.
Neig my hart tot u getuienisse en nie tot winsbejag nie.
Wend my oë af, dat hulle geen nietigheid sien nie; maak my lewend in u weë.
Vervul aan u kneg u belofte wat pas by u vrees.
Wend my smaadheid af wat ek vrees, want u verordeninge is goed.
Gewis, ek het 'n begeerte tot u bevele; maak my lewend deur u geregtigheid.
En laat u goedertierenhede oor my kom, o HERE, u heil volgens u belofte,
sodat ek my smader iets kan antwoord, want ek vertrou op u woord.
En onttrek die woord van waarheid nie geheel en al aan my mond nie, want op u verordeninge wag ek.
Dan wil ek u wet altyddeur onderhou, vir ewig en altyd,
en in die ruimte wandel, want ek soek u bevele.
Ook wil ek voor konings van u getuienisse spreek en my nie skaam nie.
En ek wil my verlustig in u gebooie wat ek liefhet,
en my hande ophef na u gebooie wat ek liefhet, en u insettinge oordink.