SPREUKE 26:17-28

SPREUKE 26:17-28 AFR53

Hy wat 'n verbylopende hond aan die ore gryp, is een wat hom vererg oor 'n twis wat hom nie aangaan nie. Soos een wat onverskillig vuurpyle, dodelike pyle afskiet, so is die man wat sy naaste bedrieg en sê: Ek speel sommer. Deur gebrek aan hout gaan die vuur dood, en as daar geen kwaadstoker is nie, bedaar die twis. Soos kole die gloed en hout die vuur laat opvlam, so is 'n twisgierige man om 'n twis aan te hits. Die woorde van 'n kwaadstoker is soos lekkernye, en dit gly af na die kamers van die binneste. Silwerskuim waarmee 'n potskerf oorgetrek is — so is gloeiende lippe en 'n slegte hart. Die hater veins met sy lippe, maar in sy binneste koester hy bedrog. As hy sy stem lieflik maak, vertrou hom nie; want sewe gruwels is in sy hart. Al verberg die haat homself in bedrog, sy boosheid word in die vergadering openbaar. Wie 'n kuil grawe, sal daarin val; en hy wat 'n klip rol, dit sal na hom terugkom. 'n Valse tong haat die wat hy verbrysel het, en 'n gladde mond bewerk ondergang.