SPREUKE 26:17-28

SPREUKE 26:17-28 NLV

Om sommer in die verbygaan in te meng in ander mense se rusie is soos om ’n kwaai hond sommer aan sy ore te gryp. Soos ’n kranksinnige wat dodelike wapens afvuur, so is iemand wat ander bedrieg en sê: “Ek het net ’n grappie gemaak.” Soos ’n vuur uitbrand as jy nie hout opgooi nie, so hou ’n rusie op as daar nie skinderpraatjies is nie. ’n Bakleierige mens veroorsaak rusies, net soos gloeiende kole ’n vuur laat opvlam en soos droë hout ’n vuur laat vlam vat. Na skinderstories luister mense graag, maar dit word maklik deel van jou lewe. Glasuur oor ’n potskerf, so is vleiende woorde wat uit ’n bose hart kom. Iemand wat in sy hart haat en bedrog koester, steek dit weg agter sy woorde. Wanneer so iemand mooi dinge sê, moet jy dit glad nie glo nie. Hy is vol bose bedoelings. Al steek hy sy haat vernuftig weg, sy kwaad sal in die gemeenskap duidelik word vir almal. Iemand wat ’n vanggat vir ’n ander mens grawe, val self daarin. Die klippe wat hy in ’n ander se pad rol, sal na hom toe terugkom. Iemand wat leuens vertel, haat dié wat hy benadeel. ’n Persoon wat ander vlei, veroorsaak ellende.