NÚMERI 30
30
Wette oor die geloftes wat deur vroue gedoen is.
1EN Moses het met die stamhoofde van die kinders van Israel gespreek en gesê: Dit is die saak wat die Here beveel het:
2 As iemand aan die Here 'n gelofte doen of 'n eed sweer waardeur hy homself verbind om hom van iets te onthou, moet hy sy woord nie breek nie; hy moet handel volgens alles wat uit sy mond uitgaan.
3Maar as 'n vrou aan die Here 'n gelofte doen of haarself verbind om haar te onthou, terwyl sy in haar vader se huis is in haar jeug,
4en haar vader van haar gelofte hoor of van die onthouding waartoe sy haarself verbind het, en haar vader swyg teenoor haar, dan sal al haar geloftes van krag wees, en elke onthouding waartoe sy haarself verbind het, sal van krag wees.
5Maar as haar vader haar terughou op die dag dat hy daarvan hoor, sal al haar geloftes en elke onthouding waartoe sy haarself verbind het, nie van krag wees nie; en die Here sal haar dit vergewe, omdat haar vader haar teruggehou het.
6Maar as sy trou terwyl haar geloftes op haar rus of iets wat onverskillig uitgespreek is, waardeur sy haarself verbind het,
7en haar man daarvan hoor, op watter dag ook al, en teenoor haar swyg, dan sal haar geloftes van krag wees, en elke onthouding waartoe sy haarself verbind het, sal van krag wees.
8Maar as haar man op die dag dat hy daarvan hoor, haar terughou, dan maak hy haar gelofte tot niet wat op haar rus, en ook wat onverskillig uitgespreek is, waardeur sy haarself verbind het; en die Here sal haar dit vergewe.
9Maar die gelofte van 'n weduwee of van 'n vrou wat verstoot is — alles waardeur sy haarself verbind het, sal vir haar van krag wees.
10En as sy in die huis van haar man 'n gelofte doen of haarself met 'n eed verbind om haar te onthou,
11en haar man daarvan hoor en teenoor haar swyg, haar nie terughou nie, dan sal al haar geloftes van krag wees, en elke onthouding waartoe sy haarself verbind het, sal van krag wees.
12Maar as haar man die dinge uitdruklik tot niet maak op die dag dat hy daarvan hoor, sal niks van alles wat uit haar lippe uitgegaan het, van haar geloftes of van die verbintenis tot onthouding, van krag wees nie; haar man het dit tot niet gemaak, en die Here sal haar dit vergewe.
13Elke gelofte en elke eed van onthouding om die siel te verootmoedig — haar man kan dit van krag maak, en haar man kan dit tot niet maak.
14Maar as haar man van dag tot dag geheel en al teenoor haar swyg, dan maak hy al haar geloftes of elke onthouding waartoe sy verbind is, van krag; hy het dit van krag gemaak, want hy het teenoor haar geswyg op die dag dat hy daarvan gehoor het.
15Maar as hy dit uitdruklik tot niet maak nadat hy al daarvan gehoor het, dan dra hy haar ongeregtigheid.
16Dit is die insettinge wat die Here Moses beveel het tussen 'n man en sy vrou, tussen 'n vader en sy dogter terwyl sy in haar jeug in haar vader se huis is.
Tans Gekies:
NÚMERI 30: AFR53
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.