En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam. Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes. Maar Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader. En nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg. TOE sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape van die kudde sal verstrooi word. Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galiléa gaan. Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie. Jesus sê vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, in hierdie nag, voordat die haan gekraai het, sal jy My drie maal verloën. Petrus sê vir Hom: Al moes ek ook saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie! So het ook al die dissipels gesê.
Lees MATTHÉÜS 26
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: MATTHÉÜS 26:26-35
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's