MATTEUS 26:26-35

MATTEUS 26:26-35 NLV

Terwyl hulle besig was om te eet, neem Jesus brood en vra God se seën daarop. Toe breek Hy dit in stukke en gee dit aan sy dissipels met die woorde: “Neem en eet dit. Dit is my liggaam.” En Hy het die beker geneem en God daarvoor gedank. Hy het dit aan hulle gegee met die woorde: “Drink almal daaruit, want dit is my bloed wat die verbond tussen God en sy volk verseël. Dit word vir baie vergiet sodat hulle sondes vergewe kan word. Ek verklaar nou hier plegtig dat Ek van nou af nie weer wyn sal drink nie totdat Ek opnuut die feeswyn saam met julle sal drink in die koninkryk van my Vader.” Hulle het toe die loflied gesing en uitgegaan na die Olyfberg toe. Jesus het toe vir hulle gesê: “Vannag gaan julle almal aanstoot aan My neem. Daar staan immers geskryf: ‘Ek sal die skaapwagter doodmaak en die skape van die trop sal uitmekaargejaag word.’ “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek vooruit na Galilea toe gaan en daar vir julle wag.” Petrus verseker Hom toe: “Al laat almal U in die steek – ék sal dit nooit doen nie.” Jesus antwoord hom: “Glo My, Petrus, vannag nog, voordat die haan kraai, sal jy drie maal ontken dat jy my dissipel is.” Petrus sê toe vir Hom: “Al moet ek saam met U sterf – ek sal dit beslis nooit doen nie!” Al die dissipels het dieselfde verklaar.