LUKAS 22:35-53

LUKAS 22:35-53 AFR53

EN Hy sê vir hulle: Toe Ek julle uitgestuur het sonder beurs en reissak en skoene, het julle iets kortgekom? En hulle antwoord: Niks nie. Toe sê Hy vir hulle: Maar nou, wie 'n beurs het, laat hom dit neem en so ook die reissak; en wie dit nie het nie, moet sy kleed verkoop en 'n swaard koop. Want Ek sê vir julle dat dit wat geskrywe is, nog aan My vervul moet word: En Hy is saam met misdadigers gereken. Want ook aan die dinge wat betrekking het op My, kom daar 'n einde. Hulle sê vir Hom: Here, kyk hier is twee swaarde. En Hy antwoord hulle: Dit is genoeg. EN Hy het vertrek en volgens gewoonte na die Olyfberg gegaan. En ook sy dissipels het Hom gevolg. En toe Hy op die plek kom, sê Hy vir hulle: Bid dat julle nie in versoeking kom nie. En Hy het Hom van hulle afgesonder omtrent so ver as 'n mens met 'n klip kan gooi, en neergekniel en gebid en gesê: Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied! En 'n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. En toe Hy in 'n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val. Toe staan Hy van die gebed op en kom by sy dissipels en vind hulle aan die slaap van droefheid. En Hy sê vir hulle: Wat slaap julle? Staan op en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. EN terwyl Hy nog spreek, kom daar 'n skare; en hy wat Judas genoem word, een van die twaalf, het voor hulle uit geloop en nader gekom na Jesus om Hom te soen. En Jesus sê vir hom: Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n kus? En toe die wat rondom Hom was, sien wat gaan gebeur, sê hulle vir Hom: Here, moet ons met die swaard slaan? En een van hulle het die dienskneg van die hoëpriester getref en sy regteroor afgekap. Maar Jesus het geantwoord en gesê: Hou op, dit is genoeg! En Hy het sy oor aangeraak en hom gesond gemaak. Toe sê Jesus vir die owerpriesters en hoofde van die tempel en ouderlinge wat teen Hom gekom het: Het julle uitgetrek soos teen 'n rower met swaarde en stokke? Dag vir dag was Ek saam met julle in die tempel, en julle het nie die hande teen My uitgesteek nie. Maar dit is julle uur en die mag van die duisternis.