LUKAS 22:35-53

LUKAS 22:35-53 NLV

Jesus het ook vir hulle gesê: “Toe Ek julle uitgestuur het sonder ’n geldbeurs of reissak of sandale, het julle enigiets kortgekom?” Hulle antwoord was: “Nee, niks nie!” Toe sê Jesus vir hulle: “Maar nou, wie ’n geldbeurs besit, moet dit saamneem; net so ook ’n reissak. En wie nie een het nie, moet sy klere verkoop om ’n swaard te kan koop. Ek sê vir julle: Dit staan so in die Skrif en moet in My vervul word: ‘Hy is saam met die wetteloses gereken.’ Ja, want wat op My betrekking het, word nou voltrek.” Hulle sê toe daarop: “Here, let op, hier is twee swaarde.” Hy sê vir hulle: “Dis genoeg.” Jesus het uit die stad gegaan na die Olyfberg, soos Hy gewoond was om te doen. En die dissipels het Hom gevolg. Toe Hy op ’n sekere plek kom, sê Hy vir hulle: “Hou aan bid dat julle nie aan versoeking sal toegee nie.” Jesus het Hom toe van hulle afgesonder, ongeveer ’n klipgooi ver. Daar het Hy gekniel en gebid: “Vader, as U wil, neem hierdie beker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geld!” Daar het ’n engel uit die hemel aan Jesus verskyn en Hom versterk. Terwyl Hy intense angs beleef, het Jesus nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos druppels bloed geword wat op die grond drup. Nadat Jesus van die gebed opgestaan en by die dissipels gekom het, kry Hy hulle aan die slaap, gedreineer deur die hartseer. Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle aan die slaap? Staan op en bid dat julle nie aan versoeking sal toegee nie.” Terwyl Jesus nog besig was om te praat, het ’n skare daar bymekaargekom. Die man wat Judas genoem word, een van die twaalf, het voor die mense uit geloop en al nader aan Jesus gekom om Hom te soengroet. Jesus het gereageer: “Judas, lewer jy die Seun van die Mens uit met ’n soen?” Toe dié wat saam met Jesus daar was, besef wat met Hom gaan gebeur, vra hulle: “Here, moet ons hulle met die swaard tref?” Een uit hulle geledere het toe na die slaaf van die hoofpriester gekap en sy regteroor afgekap. Maar Jesus het gereageer: “Hou dadelik op hiermee!” Daarna het Hy die oor aangeraak en dit gesond gemaak. Jesus het toe aan die priesterhoofde en die bevelvoerders van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom aangetree het, gesê: “Het julle opgetrek met swaarde en knuppels soos teen ’n rower? Ek was daagliks saam met julle in die tempel, en tog het julle My nie gearresteer nie. Maar hierdie is nou júlle tyd, die tyd van die mag van die duisternis.”