LUKAS 22:1-21, 23-38

LUKAS 22:1-21 AFR53

EN die fees van die ongesuurde brode, wat pasga genoem word, was naby. En die owerpriesters en die skrifgeleerdes het gesoek hoe hulle Hom kon ombring, want hulle het die volk gevrees. En die Satan het in Judas gevaar, wat Iskáriot genoem word en wat uit die getal van die twaalf was. Toe het hy gegaan en met die owerpriesters en hoofde beraadslaag hoe hy Hom aan hulle kon oorlewer. En hulle was bly en het met hom ooreengekom om hom geld te gee. En hy het toegestem en na 'n goeie geleentheid gesoek om Hom sonder oproer aan hulle oor te lewer. EN die dag van die ongesuurde brode het gekom waarop die pasga geslag moes word. Toe stuur Hy Petrus en Johannes en sê: Gaan berei die pasga vir ons, dat ons dit kan eet. En hulle sê vir Hom: Waar wil U hê moet ons dit berei? En Hy antwoord hulle: Kyk, as julle in die stad ingaan, sal 'n man julle ontmoet wat 'n kruik water dra; volg hom na die huis waar hy ingaan. En julle moet vir die eienaar van die huis sê: Die Meester vra u — waar is die kamer waar Ek die pasga met my dissipels kan eet? En hy sal julle 'n groot bovertrek wys wat reggemaak is; daar moet julle dit berei. En hulle het gegaan en dit gevind soos Hy vir hulle gesê het, en die pasga berei. En toe die uur kom, het Hy aan tafel gegaan en die twaalf apostels saam met Hom. En Hy sê vir hulle: Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly. Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie meer daarvan eet voordat dit in die koninkryk van God vervul is nie. En toe Hy 'n beker geneem het, dank Hy en sê: Neem dit en deel dit onder julle. Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie drink van die vrug van die wynstok voordat die koninkryk van God gekom het nie. Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis. Net so neem Hy ook die beker ná die maaltyd en sê: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word. Maar kyk, die hand van hom wat My verraai, is by My aan tafel.

LUKAS 22:23-38 AFR53

Toe begin hulle onder mekaar te vra wie van hulle dit tog kon wees wat dit sou doen. EN daar het ook twis onder hulle ontstaan oor wie van hulle die grootste geag moet wees. En Hy het vir hulle gesê: Die konings van die nasies heers oor hulle, en die wat gesag voer oor hulle, word weldoeners genoem. Maar so moet julle nie wees nie; maar die oudste onder julle moet word soos die jongste, en wie 'n leier is, soos een wat dien. Want wie is groter: die een wat aan tafel is, of die een wat dien? Is dit nie hy wat aan tafel is nie? Maar Ek is onder julle soos een wat dien. En dit is julle wat altyddeur by My gebly het in my versoekinge. En Ek beskik vir julle 'n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel. EN die Here sê: Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk. En hy het vir Hom gesê: Here, ek is gereed om saam met U selfs in die gevangenis en in die dood te gaan. Maar Hy antwoord: Ek sê vir jou, Petrus, die haan sal vannag nie kraai voordat jy drie maal geloën het dat jy My ken nie. EN Hy sê vir hulle: Toe Ek julle uitgestuur het sonder beurs en reissak en skoene, het julle iets kortgekom? En hulle antwoord: Niks nie. Toe sê Hy vir hulle: Maar nou, wie 'n beurs het, laat hom dit neem en so ook die reissak; en wie dit nie het nie, moet sy kleed verkoop en 'n swaard koop. Want Ek sê vir julle dat dit wat geskrywe is, nog aan My vervul moet word: En Hy is saam met misdadigers gereken. Want ook aan die dinge wat betrekking het op My, kom daar 'n einde. Hulle sê vir Hom: Here, kyk hier is twee swaarde. En Hy antwoord hulle: Dit is genoeg.

Gratis leesplanne en oordenkings oor LUKAS 22:1-21, 23-38