LUKAS 22:1-21, 23-38

LUKAS 22:1-21 NLV

Die Fees van die Ongesuurde Brood, wat ook Pasga genoem word, was baie naby. Die priesterhoofde en die skrifkenners het steeds bly soek na ’n onopvallende manier om van Jesus ontslae te raak, want hulle was bang vir die volk. Satan het in Judas ingevaar wat Iskariot genoem is, een van die twaalf. Hy het toe weggegaan om te onderhandel met die priesterhoofde en die bevelvoerders van die tempelwag oor hoe hy Jesus aan hulle sou uitlewer. Hulle was opgewonde en het ooreengekom om geld aan hom te gee. Judas het ten volle ingestem en na ’n gunstige geleentheid gesoek om Jesus uit te lewer waar die skares nie teenwoordig is nie. Die Dag van die Ongesuurde Brood waarop die paaslam geslag moes word, het aangebreek. Jesus het vir Petrus en Johannes gestuur en gesê: “Gaan maak die paasmaaltyd gereed sodat ons kan kom aansit.” Hulle vra toe vir Jesus: “Waar verkies U dat ons dit voorberei?” Hy antwoord hulle: “Kyk, wanneer julle die stad binnegaan, sal ’n man julle teëkom wat ’n kan water dra. Volg hom tot in die huis waar hy ingaan, en sê vir die eienaar van die huis: ‘Die Leermeester vra jou: Waar is die gastekamer waar Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd kan eet?’ Daardie man sal julle ’n groot bovertrek wys wat gereedgemaak is. Daar moet julle dit voorberei.” Hulle het vertrek en dit net so aangetref soos Jesus vir hulle gesê het en die paasete gereed gekry. Toe die tyd aangebreek het, het Jesus vir die ete aangesit en die apostels saam met Hom. Hy sê toe vir hulle: “Ek het geweldig daarna uitgesien om hierdie paasete saam met julle te eet voordat Ek ly. Want Ek sê vir julle, Ek sal dit beslis nie weer eet voordat dit binne die koninkryk van God sy volle vervulling gekry het nie.” Daarna het Jesus ’n beker geneem en ’n dankgebed uitgespreek. Vervolgens sê Hy: “Neem dit en deel dit onder mekaar. Want Ek sê vir julle, Ek sal beslis van nou af nie weer van die vrug van die druiwestok drink voordat die koninkryk van God ten volle gekom het nie.” Jesus het ook brood geneem, ’n dankgebed uitgespreek, dit in stukke gebreek en vir hulle gegee terwyl Hy sê: “Dit is my liggaam wat ter wille van julle gegee word. Gebruik dit ter herinnering aan My.” Hy het dieselfde gedoen met die beker ná die ete en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, bevestig deur my bloed, wat ter wille van julle uitgegiet word. “Maar kyk, die man wat My uitlewer, is hier saam met My aan die tafel.

LUKAS 22:23-38 NLV

Toe het die dissipels mekaar begin uitvra wie van hulle dit tog kon wees wat só iets sou doen. Daar het toe ’n wedywering onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word. Jesus het egter gereageer: “Die konings van die nasies heers oor hulle, en dié wat gesag oor hulle uitoefen, laat noem hulleself weldoeners. “By julle moet dit egter nie só gaan nie, maar die belangrikste een onder julle moet wees soos die geringste, en die een wat leiding gee, soos een wat dien. Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is of die een wat bedien? Dit is tog hy wat aan tafel is. Ek is egter in julle midde soos een wat dien. Maar julle is die mense wat deur dik en dun in my swaarkry by My gebly het. “Net soos my Vader ’n koninkryk aan My toegewys het, só bemaak Ek dit ook aan julle sodat julle in my koninkryk kan eet en drink aan my tafel en kan sit op trone om oor die twaalf stamme van Israel reg te spreek.” “Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Let op, Satan het God ernstig gevra dat hy julle soos koring kan sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges ondersteun.” Petrus sê vir Jesus: “Here, ek is gereed om saam met U die pad te loop tot in die gevangenis en die dood.” Jesus het egter gereageer: “Petrus, Ek sê dit nou vir jou: ’n Haan sal vannag nie kraai voordat jy drie maal ontken het dat jy My ken nie.” Jesus het ook vir hulle gesê: “Toe Ek julle uitgestuur het sonder ’n geldbeurs of reissak of sandale, het julle enigiets kortgekom?” Hulle antwoord was: “Nee, niks nie!” Toe sê Jesus vir hulle: “Maar nou, wie ’n geldbeurs besit, moet dit saamneem; net so ook ’n reissak. En wie nie een het nie, moet sy klere verkoop om ’n swaard te kan koop. Ek sê vir julle: Dit staan so in die Skrif en moet in My vervul word: ‘Hy is saam met die wetteloses gereken.’ Ja, want wat op My betrekking het, word nou voltrek.” Hulle sê toe daarop: “Here, let op, hier is twee swaarde.” Hy sê vir hulle: “Dis genoeg.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor LUKAS 22:1-21, 23-38