LUKAS 2:1-35

LUKAS 2:1-35 AFR53

EN in daardie dae het daar 'n bevel uitgegaan van keiser Augustus dat die hele wêreld ingeskryf moes word. Hierdie eerste inskrywing het plaasgevind toe Cirénius goewerneur van Sírië was. En almal het gegaan om ingeskryf te word, elkeen na sy eie stad. En Josef het ook opgegaan van Galiléa, uit die stad Násaret, na Judéa, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy uit die huis en geslag van Dawid was, om hom te laat inskrywe saam met Maria, die vrou aan wie hy hom verloof het, wat swanger was. En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar; en sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie. EN daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. En meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig. En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is. En dit is vir julle die teken: julle sal 'n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê. En skielik was daar saam met die engel 'n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê: Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense 'n welbehae! En toe die engele van hulle weggegaan het na die hemel, sê die herders vir mekaar: Laat ons dan na Betlehem gaan en hierdie ding sien wat gebeur het, wat die Here aan ons bekend gemaak het. En hulle het met haas gegaan en Maria en Josef gevind en die kindjie wat in die krip lê. En toe hulle dit gesien het, het hulle oral die woord bekend gemaak wat aan hulle van dié Kindjie vertel is. En almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat deur die herders aan hulle vertel is; maar Maria het al hierdie woorde bewaar en in haar hart oordink. En die herders het teruggegaan en God verheerlik en geprys oor alles wat hulle gehoor en gesien het, net soos aan hulle gesê is. EN toe agt dae vervul was, dat hulle die Kindjie sou besny, het hulle Hom Jesus genoem, die naam wat deur die engel gegee is voor sy ontvangenis in die moederskoot. En nadat die dae van haar reiniging volgens die wet van Moses vervul was, het hulle Hom na Jerusalem gebring om Hom aan die Here voor te stel, soos geskrywe is in die wet van die Here: Elke manlike kind wat die moederskoot open, sal heilig vir die Here genoem word; en om die offer te gee volgens wat gesê is in die wet van die Here: 'n paar tortelduiwe of twee jong duiwe. EN daar was 'n man in Jerusalem met die naam van Símeon; en hierdie man was regverdig en vroom en het die vertroosting van Israel verwag, en die Heilige Gees was op hom. En aan hom was dit deur die Heilige Gees geopenbaar dat hy die dood nie sou sien voordat hy die Christus van die Here gesien het nie. En hy het deur die Gees in die tempel gekom; en toe die ouers die Kindjie Jesus inbring om met Hom te handel volgens die gebruik van die wet, het hy Hom in sy arms geneem en God geloof en gesê: Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord, omdat my oë u heil gesien het, wat U berei het voor die oë van al die volke — 'n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel. En Josef en sy moeder het hulle verwonder oor die dinge wat van Hom gesê is. En Símeon het hulle geseën en aan Maria, sy moeder, gesê: Kyk, hierdie Kind is bestemd tot 'n val en 'n opstanding van baie in Israel en tot 'n teken wat weerspreek sal word — ja, 'n swaard sal deur jou eie siel gaan — sodat die gedagtes uit baie harte openbaar kan word.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid