LUKAS 18:31-43

LUKAS 18:31-43 AFR53

EN Hy het die twaalf by Hom geneem en vir hulle gesê: Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en alles wat deur die profete geskrywe is, sal aan die Seun van die mens vervul word. Want Hy sal oorgelewer word aan die heidene en bespot en mishandel word, en op Hom sal gespuug word; en nadat hulle Hom gegésel het, sal hulle Hom doodmaak; en op die derde dag sal Hy opstaan. Maar hulle het niks hiervan begryp nie, en hierdie woord was vir hulle bedek, en hulle het nie verstaan wat gesê is nie. EN terwyl Hy naby Jérigo kom, sit daar 'n blinde man langs die pad en bedel; en toe hy 'n skare hoor verbygaan, vra hy wat dit is. En hulle vertel hom: Jesus die Nasaréner gaan verby. Toe roep hy uit en sê: Jesus, Seun van Dawid, wees my barmhartig! En die wat voor loop, bestraf hom dat hy moet stilbly. Maar hy het al harder uitgeroep: Seun van Dawid, wees my barmhartig! En Jesus het gaan staan en bevel gegee dat hy na Hom gebring moes word; en toe hy naby kom, vra Hy hom en sê: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? En hy antwoord: Here, dat ek kan sien. En Jesus sê vir hom: Sien! Jou geloof het jou gered. En onmiddellik het hy gesien en Hom gevolg, terwyl hy God verheerlik. En toe die hele volk dit sien, het hulle aan God die lof gegee.