maar hulle het die HERE aangeroep, en Hy het 'n duisternis gestel tussen julle en die Egiptenaars en die see oor hulle laat kom, sodat dit hulle oordek het, en julle eie oë het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het. Daarna het julle baie dae in die woestyn gebly. Daarop het Ek julle gebring in die land van die Amoriete wat oos van die Jordaan gewoon het, en hulle het teen julle geveg; maar Ek het hulle in julle hand gegee, sodat julle hul land in besit geneem het, en Ek het hulle voor julle uit verdelg. Toe het Balak, die seun van Sippor, die koning van Moab, hom klaargemaak en teen Israel geveg; en hy het gestuur om Bíleam, die seun van Beor, te roep om julle te vervloek; maar Ek wou nie na Bíleam luister nie, sodat hy julle net geseën het; en Ek het julle uit sy hand gered. Toe julle die Jordaan deurgetrek en by Jérigo gekom het, het die burgers van Jérigo, die Amoriete en Feresiete en Kanaäniete en Hetiete en Girgasiete, die Hewiete en Jebusiete teen julle geveg; maar Ek het hulle in julle hand gegee en perdebye voor julle uit gestuur, wat hulle voor julle uit verdryf het, — die twee konings van die Amoriete — nie deur jou swaard en nie deur jou boog nie. So het Ek julle dan 'n land gegee waar julle nie aan gearbei en stede wat julle nie gebou het nie, dat julle daarin kan woon; wingerde en olyfbome wat julle nie geplant het nie, daar eet julle van. Vrees dan nou die HERE en dien Hom in opregtheid en waarheid, en verwyder die gode wat julle vaders gedien het oorkant die Eufraat en in Egipte, en dien die HERE. Maar as dit verkeerd is in julle oë om die HERE te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.
Lees JOSUA 24
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: JOSUA 24:7-15
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's