JOSUA 11:3-10

JOSUA 11:3-10 AFR53

na die Kanaäniete in die ooste en in die weste en die Amoriete en Hetiete en Feresiete en Jebusiete op die gebergte en die Hewiete onderaan Hermon, in die land van Mispa. Hulle het dan uitgetrek en al hulle leërs saam met hulle, 'n volk talryk soos die sand wat aan die seestrand is in menigte, met 'n groot getal perde en strydwaens; en al hierdie konings het volgens afspraak byeengekom en saam laer opgeslaan by die waters van Merom, om met Israel oorlog te voer. Toe sê die HERE vir Josua: Wees vir hulle nie bevrees nie; want môre omtrent sulke tyd sal Ek hulle, almal verslaan, aan Israel oorgee; hulle perde se hakskeensenings moet jy afsny en hulle waens met vuur verbrand. En Josua met al die weerbare manskappe by hom het skielik op hulle afgekom by die waters van Merom en hulle oorval. En die HERE het hulle in die hand van Israel gegee, sodat dié hulle verslaan en hulle agtervolg het tot by Groot-Sidon en tot by Mísrefot-Maim en tot by die laagte van Mispe teen die ooste; en hulle het hul verslaan totdat daar niemand van hulle was wat vrygeraak het nie. En Josua het met hulle gedoen soos die HERE aan hom gesê het: hulle perde se hakskeensenings het hy afgesny en hulle strydwaens met vuur verbrand. En in dié tyd het Josua omgedraai en Hasor ingeneem en sy koning met die swaard verslaan; want Hasor was tevore die hoof van al daardie koninkryke.