Josua 11:3-10

Josua 11:3-10 AFR20

die Kanaäniete in die ooste en weste, die Amoriete, die Hetiete, en Feresiete, die Jebusiete in die bergland en die Hewiete onderkant Hermon in die Mispestreek. Hulle het met al hulle leërs saam met Jabin uitgetrek, met baie manskappe, so talryk soos die sand wat langs die seestrand is en met 'n groot aantal perde en strydwaens. Al hierdie konings het kragte saamgesnoer, gegaan en kamp opgeslaan by die waters van Merom om teen Israel oorlog te voer. Die HERE het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie, want môre teen hierdie tyd sal Ek hulle almal doodgemaak aan Israel oorlewer. Hulle perde se hakskeensenings moet jy afkap, en hulle strydwaens moet jy verbrand.” Josua en al die weerbare manskappe saam met hom het hulle by die waters van Merom verras en hulle oorval. Die HERE het hulle in die hand van Israel gegee, en Israel het hulle verslaan en agtervolg tot by Groot-Sidon, Misrefot-Majim en die Mispevallei in die ooste. Hulle het hulle verslaan, totdat daar van hulle niemand oor was wat ontvlug het nie. Josua het met hulle gemaak soos die HERE vir hom gesê het: Hulle perde se hakskeensenings het hy afgekap en hulle strydwaens het hy verbrand. In daardie tyd het Josua teruggedraai, Gasor ingeneem en sy koning met die swaard doodgemaak. Vroeër was Gasor immers die belangrikste van al daardie koninkryke.