JOSUA 10:1-27

JOSUA 10:1-27 AFR53

EN toe Adóni-Sedek, die koning van Jerusalem, hoor dat Josua Ai ingeneem en dit met die banvloek getref het — soos hy met Jérigo en sy koning gedoen het, so het hy met Ai en sy koning gedoen — en dat die inwoners van Gíbeon vrede gesluit het met Israel en in hulle midde was, het hulle baie bevrees geword, omdat Gíbeon 'n groot stad was, soos een van die koningstede, en omdat hy groter as Ai en al sy manne helde was. Adóni-Sedek, die koning van Jerusalem, stuur toe na Hoham, die koning van Hebron, en na Píream, die koning van Jarmut, en na Jáfia, die koning van Lagis, en na Debir, die koning van Eglon, om te sê: Trek na my toe op en help my, dat ons Gíbeon kan verslaan, omdat hy met Josua en met die kinders van Israel vrede gesluit het. So het dan die vyf Amoritiese konings vergader en opgetrek: die koning van Jerusalem, die koning van Hebron, die koning van Jarmut, die koning van Lagis, die koning van Eglon, hulle en al hul leërmagte; en hulle het Gíbeon beleër en daarteen geveg. Maar die manne van Gíbeon het na Josua gestuur, in die laer van Gilgal, om te sê: Trek u hande nie af van u dienaars nie, kom gou op na ons toe en verlos ons en help ons; want al die konings van die Amoriete wat die Gebergte bewoon, het hulle teen ons verenig. Daarop het Josua opgetrek uit Gilgal, hy en al die weerbare manskappe en al die dapper helde met hom saam. En die HERE het aan Josua gesê: Wees nie bevrees vir hulle nie, want Ek gee hulle in jou hand; niemand van hulle sal voor jou standhou nie. Toe Josua hulle skielik oorval — hy het die hele nag deur van Gilgal af opgetrek — het die HERE hulle in verwarring gebring voor Israel, en hy het 'n groot slag onder hulle geslaan by Gíbeon en hulle agtervolg op pad na die hoogte van Bet-Horon en hulle verslaan tot by Aséka en tot by Makkéda. En toe hulle voor Israel uit vlug terwyl hulle op die afdraand van Bet-Horon was, het die HERE groot haelstene uit die hemel op hulle gewerp tot by Aséka, sodat hulle gesterf het; daar het meer gesterf deur die haelstene as wat die kinders van Israel met die swaard doodgeslaan het. Toe het Josua met die HERE gespreek, op die dag dat die HERE die Amoriete aan die kinders van Israel oorgegee het, en voor die oë van Israel gesê: Son, staan stil in Gíbeon, en maan, in die dal van Ájalon! Toe staan die son stil en bly die maan staan totdat die volk hulle gewreek het op hul vyande. Staan dit nie geskrywe in die Boek van die Opregte nie? En die son het bly staan in die middel van die hemel en het hom nie gehaas om onder te gaan nie, omtrent 'n volle dag. En daar was geen dag soos hierdie een, voor hom en ná hom, dat die HERE na die stem van 'n man geluister het nie; want die HERE het vir Israel gestry. Daarop het Josua, en die hele Israel met hom saam, na die laer van Gilgal teruggekeer. Maar daardie vyf konings het gevlug en weggekruip in die spelonk by Makkéda. Toe aan Josua geboodskap en gesê is: Die vyf konings is gevind: hulle kruip weg in die spelonk by Makkéda — het Josua gesê: Rol groot klippe teen die ingang van die spelonk en stel manne daarby aan om hulle te bewaak. Maar julle, moenie bly staan nie; jaag julle vyande agterna en sny hulle agterhoede af; laat hulle nie toe om in hul stede in te kom nie, want die HERE julle God gee hulle in julle hand. En toe Josua en die kinders van Israel hulle heeltemal verslaan het met 'n baie groot slag totdat hulle vernietig was, en enkele uit hulle vrygeraak en in die versterkte stede ingegaan het, het al die manskappe by die laer, by Josua behoue teruggekom in Makkéda; niemand het teen die kinders van Israel sy tong verroer nie. Daarop sê Josua: Maak oop die ingang van die spelonk en bring hierdie vyf konings uit die spelonk uit na my toe. Hulle het so gedoen en dié vyf konings uit die spelonk na hom gebring: die koning van Jerusalem, die koning van Hebron, die koning van Jarmut, die koning van Lagis, die koning van Eglon. En toe hulle dié konings uitgebring het na Josua, roep Josua al die manne van Israel en sê aan die aanvoerders van die krygsmanne wat met hom saam getrek het: Kom nader, sit julle voete op die nekke van hierdie konings; en hulle het nader gekom en hul voete op hulle nekke gesit. En Josua sê vir hulle: Wees nie bevrees of verskrik nie; wees sterk en vol moed, want so sal die HERE met al julle vyande doen teen wie julle sal veg. En daarna het Josua hulle neergeslaan en hulle gedood en hulle aan vyf pale opgehang; en hulle het aan die pale bly hang tot die aand toe. En teen sonsondergang het Josua bevel gegee om hulle van die pale af te haal en in die spelonk te gooi waarin hulle weggekruip het; en hulle het groot klippe voor die ingang van die spelonk gepak, wat vandag nog daar is.