Toe Adoni-Sedek, die koning van Jerusalem, hoor dat Josua Ai ingeneem en dit met die banvloek getref het, dat hy met Ai en sy koning gedoen het wat hy met Jerigo en sy koning gedoen het, en dat die inwoners van Gibeon met Israel vrede gesluit het en tussen hulle was, het hy vreesbevange geword. Gibeon was immers 'n groot stad, soos een van die koningstede – ja, dit was groter as Ai, en al sy manne was helde. Adoni-Sedek, die koning van Jerusalem, stuur toe 'n boodskap na Hoham, die koning van Hebron, na Piram, die koning van Jarmut, na Jafia, die koning van Lagis, en na Debir, die koning van Eglon met die woorde: “Trek op na my toe, en help my dat ons Gibeon aanval; want hulle het met Josua en die Israeliete vrede gesluit.”
Die vyf konings van die Amoriete het toe bymekaargekom en opgetrek – die koning van Jerusalem, die koning van Hebron, die koning van Jarmut, die koning van Lagis en die koning van Eglon – hulle met al hulle leërs. Hulle het Gibeon beleër en teen die stad oorlog gevoer. Die manne van Gibeon het hierdie boodskap na Josua gestuur, na die kamp by Gilgal: “Moet u dienaars nie in die steek laat nie! Trek gou na ons op! Red ons en help ons! Want al die konings van die Amoriete wat in die bergland woon, het teen ons saamgetrek.”
Josua het toe van Gilgal af opgetrek, hy en al die weerbare manskappe saam met hom, al die dapper krygers. Die HERE het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek gee hulle in jou hand. Niemand van hulle sal voor jou staande bly nie.” Josua het hulle verras; hy het die hele nag vanaf Gilgal getrek. Die HERE het hulle verward laat raak voor Israel, en Josua het hulle 'n groot nederlaag toegedien by Gibeon. Hy het hulle agtervolg in die rigting van die opdraande by Bet-Goron, en hulle afgemaai tot by Aseka en Makkeda.
Terwyl hulle op vlug was voor Israel teen die afdraande by Bet-Goron, het die HERE groot klippe uit die hemel op hulle gewerp, tot by Aseka, sodat hulle gesterf het. Dié wat deur die haelstene gesterf het, was meer as dié wat deur die Israeliete met die swaard doodgemaak is. Dit was in dié tyd dat Josua met die HERE gepraat het, die dag toe die HERE die Amoriete aan die Israeliete oorgelewer het. Hy het, terwyl Israel toekyk, gesê:
“Son, staan stil in Gibeon,
en maan, in die vallei van Ajalon! ”
En die son het stilgestaan
en die maan het gaan staan,
totdat 'n nasie wraak geneem het
op sy vyande.
Staan dit nie geskryf in die Boekrol van die Opregte nie? Ja, die son het gaan staan in die middel van die hemelruim, en hy was ongeveer 'n volle dag nie haastig om onder te gaan nie. Daar was nooit tevore of daarna 'n dag soos hierdie nie, waarop die HERE geluister het na die stem van 'n mens. Ja, die HERE het vir Israel geveg.
Josua en die hele Israel saam met hom het na die kamp in Gilgal teruggekeer. Hierdie vyf konings het egter gevlug en in die grot by Makkeda weggekruip. Aan Josua is berig gebring: “Die vyf konings is gevind waar hulle wegkruip in die grot by Makkeda.” Josua het gesê: “Rol groot klippe voor die ingang van die grot en stel manne daar aan om hulle op te pas. En wat julle betref, julle moet nie bly staan nie; agtervolg julle vyande en val hulle van agter aan. Moet hulle nie toelaat om hulle stede te bereik nie, want die HERE julle God gee hulle in julle hand.”
Nadat Josua en die Israeliete hulle klaar 'n baie groot nederlaag toegedien het, totdat hulle uitgewis was – die vrygeraaktes onder hulle het ontvlug en in die versterkte stede aangekom – het al die manskappe veilig teruggekeer na die kamp, na Josua in Makkeda. Niemand het 'n woord teen die Israeliete gesê nie.
Josua het gesê: “Maak oop die ingang van die grot en bring hierdie vyf konings uit die grot na my toe.” Hulle het dit toe gedoen. Hulle het hierdie vyf konings uit die grot na hom gebring: die koning van Jerusalem, die koning van Hebron, die koning van Jarmut, die koning van Lagis en die koning van Eglon. Nadat hulle hierdie konings na Josua uitgebring het, het Josua al die manne van Israel geroep. Hy het vir die •aanvoerders van die krygsmanne wat saam met hom gegaan het, gesê: “Kom nader! Sit julle voete op die nekke van hierdie konings!” Hulle het toe nader gegaan en hulle voete op die nekke van die konings gesit. Josua sê toe vir hulle: “Moenie bang wees nie en moet julle nie laat afskrik nie. Wees dapper en sterk, want so sal die HERE met al julle vyande maak teen wie julle gaan veg. ”
Daarna het Josua die konings neergevel en hulle doodgemaak. Hy het hulle aan vyf pale opgehang, en hulle het aan die pale bly hang tot die aand. Teen sononder het Josua bevel gegee, en hulle is van die pale afgehaal en in die grot gegooi waar hulle weggekruip het. Groot klippe is voor die ingang van die grot gepak, wat tot vandag toe nog daar is.