JOB 40:6-24

JOB 40:6-24 AFR53

Giet jou toorn in strome uit; en kyk na alles wat hoog is, en verneder dit. Kyk na alles wat hoog is, onderwerp dit; en werp die goddelose neer daar waar hulle staan. Begrawe hulle almal saam in die stof; sluit hulle aangesigte in 'n verborge plek weg. Dan sal ook Ek jou loof, omdat jou regterhand jou die oorwinning gee. Kyk, daar is die seekoei wat Ek gemaak het saam met jou. Gras eet hy soos 'n bees. Kyk tog, sy krag is in sy kruis, en sy sterkte in die spiere van sy buik. Hy hou sy stert reguit soos 'n seder; die senings van sy dye is inmekaar gevleg. Sy gebeente is pype van koper, sy bene soos stawe van yster. Hy is die eersteling van die weë van God; Hy wat hom gemaak het, het hom sy swaard verskaf. Want die berge lewer vir hom voer, en al die wilde diere van die veld speel daar. Onder lotusbome lê hy, in 'n skuilplek van riete en moeras. Lotusbome oordek hom as sy skaduwee, die rivierwilgers omring hom. As die rivier swel — hy word nie verskrik nie; hy voel gerus, ook al bruis 'n Jordaan teen sy mond. Sal 'n mens hom gryp terwyl hy jou aankyk, met vangtoue sy neus deurboor? Kan jy die krokodil met 'n hoek uittrek? En met 'n tou sy tong afdruk? Kan jy 'n tou van biesies in sy neus sit? En sy kakebeen met 'n haak deurboor? Sal hy jou baie smeek? Of met jou spreek in sagte woorde? Sal hy 'n verbond met jou sluit, dat jy hom vir altyd as slaaf aanneem? Sal jy met hom soos met 'n voëltjie speel? En hom vasbind vir jou meisiekinders?