JOB 12
12
Waarom, vra Job sy vriende, wil julle, op grond van 'n oppervlakkige kennis, my, die onskuldige, belaglik maak?
1MAAR Job het geantwoord en gesê:
2Waarlik, ja, julle is die regte mense, en saam met julle sterf die wysheid uit!
3Ook ek het verstand soos julle; ek staan nie vir julle terug nie; en wie weet sulke dinge nie?
4Ek moet 'n belagging wees vir my vriend, ek wat God aangeroep en verhoring gevind het — 'n belagging is die regverdige, die opregte!
5Vir die ongeluk is daar veragting volgens die gedagte van hom wat lekker lewe; dit staan klaar vir hulle wie se voet wankel.
6 Rustig staan die tente van die verwoesters, en sekerheid is die deel van hulle wat God vertoorn, van hom wat sy god in sy hand dra.
Sekerlik, God bestier alles: dit leer die natuur en die ervaring.
7MAAR vra tog vir die diere, dat hulle jou leer; en die voëls van die hemel, dat hulle jou te kenne gee;
8of spreek die aarde aan, dat dit jou leer, en laat die visse van die see jou vertel.
9Wie weet nie deur al hierdie dinge dat die hand van die Here dit gemaak het nie?
10 In wie se hand die siel is van alles wat leef, en die gees van alle menslike vlees.
11Moet die oor nie woorde toets soos die verhemelte spys proe nie?
12By die grysaards is wysheid, en in lengte van dae is verstand.
Maar dié bestier van God, sê Job, is willekeurig en het geen sedelike strekking nie, al is Hy die Wyse.
13BY Hóm is wysheid en mag; Hý het raad en verstand.
14Kyk, Hy breek af, en daar word nie opgebou nie; Hy sluit 'n man as gevangene op, en daar word nie oopgemaak nie.
15Kyk, Hy hou die waters terug, en hulle verdroog; ook laat Hy hulle los, en hulle keer die aarde om.
16By Hóm is krag en beleid; syne is die verdwaalde en hy wat laat dwaal.
17Hy voer raadsmanne uitgeplunder weg, en regters maak Hy tot dwase.
18Hy maak die band los waar konings mee bind, en bind 'n lyfdoek om hulle heupe.
19Hy voer priesters uitgeplunder weg en bring wie vasstaan, tot 'n val.
20Hy neem die spraak van die betroubare mense weg en beroof die ou mense van hul oordeel.
21 Hy stort veragting uit oor die edeles en maak die gordel van die magtiges slap.
22Hy openbaar dieptes uit die duisternis uit, en doodskaduwee bring Hy uit in die lig.
23 Hy maak nasies groot en laat hulle omkom; Hy brei nasies uit en voer hulle weg.
24Hy neem die verstand weg van die volkshoofde van die land en laat hulle ronddwaal in 'n wildernis, sonder pad.
25Hulle tas in die duisternis, sonder lig; en Hy laat hulle ronddwaal soos 'n dronk man.
Tans Gekies:
JOB 12: AFR53
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.