HOSÉA 7:8-16

HOSÉA 7:8-16 AFR53

Efraim — hy vermeng hom met die volke; Efraim is 'n roosterkoek wat nie omgekeer is nie. Vreemdes verteer sy krag, en hy bemerk dit nie; ook is grysheid oor hom uitgesprei, en hy weet dit nie. Ja, die trotsheid van Israel getuig openlik teen hom; en tog bekeer hulle hul nie tot die HERE hulle God nie, en ondanks dit alles soek hulle Hom nie. So het Efraim dan geword soos 'n onnosele duif sonder verstand; hulle roep na Egipte, hulle gaan na Assur. Wanneer hulle gaan, sal Ek my net oor hulle uitsprei; soos die voëls van die hemel trek Ek hulle neer; Ek tugtig hulle soos in hulle samekoms aangekondig is. Wee hulle, omdat hulle van My weggevlieg het! Verwoesting oor hulle, omdat hulle teen My oortree het! Ék tog wou hulle verlos, maar húlle het leuens teen My gespreek. Ook roep hulle nie van harte na My nie, maar jammer op hulle bedde; ter wille van koring en mos kerwe hulle hulself stukkend; hulle is opstandig teen My. Alhoewel Ek hulle arms geoefen, versterk het, het hulle kwaad teen My beraam. Hulle keer terug, maar nie na bo nie; hulle is soos 'n bedrieglike boog; hulle vorste sal val deur die swaard weens die skeldwoorde van hulle tong. Dit is hulle bespotting in Egipteland.