GÉNESIS 31:1-16

GÉNESIS 31:1-16 AFR53

TOE hoor hy die woorde van die seuns van Laban, dat hulle sê: Jakob het alles geneem wat ons vader s'n was; en uit wat ons vader s'n was, het hy al hierdie rykdom verwerf. Jakob het ook meteens aan die aangesig van Laban gesien dat hy nie meer vir hom was soos gister en eergister nie. En die HERE het aan Jakob gesê: Gaan terug na die land van jou vaders en na jou familie; en Ek sal met jou wees. Toe stuur Jakob en laat Ragel en Lea veld toe roep na sy kleinvee en sê vir hulle: Ek sien dat die aangesig van julle vader teenoor my nie meer is soos gister en eergister nie, maar die God van my vader was met my. En julle weet self dat ek met al my krag julle vader gedien het; maar julle vader het my bedrieg: hy het my loon tien maal verander. Maar God het hom nie toegelaat om my skade aan te doen nie. As hy sê: Die gestippeldes sal jou loon wees, dan lam al die vee gestippeldes. En as hy sê: Die gestreeptes sal jou loon wees, dan lam al die vee gestreeptes. So het God dan die vee van julle vader weggeneem en aan my gegee. Eenkeer, in die tyd toe die kleinvee verhit was, het ek my oë opgeslaan en in 'n droom gesien dat die bokramme wat die kleinvee dek, gestreep, gestippeld en bont was. En die Engel van God sê vir my in die droom: Jakob! En ek antwoord: Hier is ek! En Hy sê: Slaan tog jou oë op en kyk: al die bokramme wat die kleinvee dek, is gestreep, gestippeld en bont, want Ek het alles gesien wat Laban jou aandoen. Ek is die God van Bet-el waar jy die gedenksteen gesalf het, waar jy aan My 'n gelofte gedoen het. Maak jou dan nou klaar, trek weg uit hierdie land en gaan terug na jou geboorteland. Toe antwoord Ragel en Lea en sê vir hom: Het ons nog deel of erfenis in die huis van ons vader? Word ons nie deur hom as vreemdelinge beskou nie? Want hy het ons verkoop en die geld wat deur ons verkry is, geheel en al deurgebring. Want al die rykdom wat God van ons vader weggeneem het, kom ons en ons kinders toe. Doen dan nou alles wat God jou gesê het.

Video vir GÉNESIS 31:1-16