Verder het Hy vir hom gesê: Ek is die HERE wat jou uitgelei het uit Ur van die Chaldeërs om jou hierdie land in besit te gee. En hy sê: Here HERE, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem? En Hy antwoord hom: Neem vir My 'n driejaaroud vers en 'n driejaaroud bokooi en 'n driejaaroud ram en 'n tortelduif en 'n jong duif. En hy het dit alles vir Hom gebring en dit middeldeur gedeel en die helftes teenoor mekaar gelê; maar die voëls het hy nie verdeel nie. Toe kom daar roofvoëls op die dooie diere af, maar Abram het hulle weggejaag. En toe die son wou ondergaan, val daar 'n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval. Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in 'n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vierhonderd jaar lank. Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed. Maar jý sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word. En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie. En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar 'n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur. Op dié dag het die HERE met Abram 'n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier: die Keniete en Kenissiete en Kadmoniete en Hetiete en Feresiete en Refaïete en Amoriete en Kanaäniete en Girgasiete en Jebusiete.
Lees GÉNESIS 15
Deel
Vergelyk alle weergawes: GÉNESIS 15:7-21
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's