EN as jy in die land kom wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee en jy dit in besit neem en daarin woon, dan moet jy neem uit die eerstelinge van al die vrugte van die land wat jy inbring uit jou land wat die HERE jou God jou sal gee, en dit in 'n mandjie sit; en jy moet gaan na die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, en na die priester kom wat daar in dié dae sal wees, en jy moet vir hom sê: Ek verklaar vandag aan die HERE u God dat ek in die land gekom het wat die HERE aan ons vaders met 'n eed beloof het om aan ons te gee. En die priester moet die mandjie uit jou hand neem en dit voor die altaar van die HERE jou God neersit. Dan moet jy voor die aangesig van die HERE jou God verklaar en sê: My vader was 'n swerwende Arameër en het na Egipte afgetrek en daar as vreemdeling vertoef met min mense; maar hy het daar 'n groot, magtige en talryke nasie geword. Maar die Egiptenaars het ons mishandel en ons verdruk en 'n harde diens op ons gelê. Toe het ons die HERE, die God van ons vaders, aangeroep; en die HERE het ons stem gehoor en ons ellende en ons moeite en ons verdrukking aangesien; en die HERE het ons uit Egipte uitgelei deur 'n sterke hand en 'n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade en deur tekens en wonders; en Hy het ons na hierdie plek gebring en ons hierdie land gegee, 'n land wat oorloop van melk en heuning. Hier het ek dan nou die eerstelinge gebring van die vrugte van die land wat U, HERE, my gegee het. Dan moet jy dit neersit voor die aangesig van die HERE jou God en jou neerbuig voor die aangesig van die HERE jou God. En jy moet vrolik wees oor al die goeie dinge wat die HERE jou God jou en jou huis gegee het; jy en die Leviet en die vreemdeling wat by jou is. As jy al die tiendes van jou opbrings klaar afgesonder het in die derde jaar, die jaar van die tiendes, dan moet jy aan die Leviet, die vreemdeling, die wees en die weduwee gee, dat hulle in jou poorte kan eet en versadig word.
Lees DEUTERONÓMIUM 26
Deel
Vergelyk alle weergawes: DEUTERONÓMIUM 26:1-12
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's