Daarop is in 'n naggesig die geheim aan Daniël geopenbaar. Toe het Daniël die God van die hemel geloof.
Daniël het toe gespreek en gesê: Mag die Naam van God geprys word van ewigheid tot ewigheid, want die wysheid en die krag is syne.
Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan; Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het;
Hy openbaar ondeurgrondelike en verborge dinge; Hy weet wat in die duister is, en die lig woon by Hom.
U, God van my vaders, loof en prys ek, want U het my wysheid en krag verleen, en nou het U my bekend gemaak wat ons van U afgesmeek het, want die saak van die koning het U ons bekend gemaak.
Daarom het Daniël ingegaan na Áriog, wat die koning aangestel het om die wyse manne van Babel om te bring; hy het gegaan en vir hom só gesê: Moenie die wyse manne van Babel ombring nie; bring my in voor die koning, dan sal ek aan die koning die uitlegging te kenne gee.
Toe het Áriog Daniël haastig voor die koning ingebring en só vir hom gesê: Ek het 'n man onder die ballinge van Juda gevind wat die koning die uitlegging bekend sal maak.
Die koning het geantwoord en aan Daniël, wie se naam Béltsasar was, gesê: Is jy in staat om aan my die droom wat ek gesien het, en sy uitlegging bekend te maak?
Daniël het in teenwoordigheid van die koning geantwoord en gesê: Die geheim waarna die koning vra, kan die wyse manne, die besweerders, die geleerdes, die waarsêers nie aan die koning te kenne gee nie.
Maar daar is 'n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadnésar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur. U droom en die gesigte van u hoof op u bed was dit:
Wat u betref, o koning, u gedagtes op u bed het opgestyg oor wat hierna sal gebeur, en die Openbaarder van die geheime het u bekend gemaak wat sal gebeur.
En wat my betref, hierdie geheim is my geopenbaar, nie deur 'n wysheid wat in my sou wees meer as in al die lewendes nie, maar met die bedoeling dat die uitlegging aan die koning bekend gemaak sal word en u die gedagtes van u hart kan ken.
U, o koning, het 'n gesig gehad — kyk, daar was 'n groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik.
Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper,
sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei.
U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande 'n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het.
Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het 'n groot rots geword wat die hele aarde gevul het.
Dit is die droom; sy uitlegging sal ons nou voor die koning sê:
U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het,
en in wie se hand Hy in die hele bewoonde wêreld die mensekinders, die diere van die veld en die voëls van die hemel gegee het, sodat Hy u as heerser oor hulle almal aangestel het — ú is die hoof van goud.
En ná u sal daar 'n ander koninkryk opstaan, geringer as dié van u; daarna 'n ander, 'n derde koninkryk, van koper, wat oor die hele aarde sal heers;
en die vierde koninkryk sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles fynstamp en verpletter; en soos die yster wat vergruis, sal hy dit alles fynstamp en vergruis.
En dat die voete en die tone, soos u gesien het, deels van pottebakkersklei en deels van yster was — dit sal 'n verdeelde koninkryk wees, en van die hardheid van die yster sal daarin wees, omdat u die yster met kleigrond gemeng gesien het.
En dat die tone van die voete deels van yster en deels van klei is — 'n gedeelte van die koninkryk sal hard en 'n gedeelte sal bros wees.
Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het — hulle sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie.
Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel 'n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar 'n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan —
net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande 'n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.
Toe het koning Nebukadnésar op sy aangesig geval en Daniël aanbid en bevel gegee om aan hom 'n spysoffer en reukoffers te bring.
Die koning het Daniël geantwoord en gesê: Waarlik, julle God is die God van die gode en die Here van die konings en die Openbaarder van geheimenisse, daarom was jy in staat om hierdie geheim te openbaar.
Toe het die koning Daniël verhef en hom baie, groot geskenke gegee en hom aangestel as heerser oor die hele provinsie Babel en as hoofowerste oor al die wyse manne van Babel.
En op versoek van Daniël het die koning Sadrag, Mesag en Abednégo aangestel oor die bestuur van die provinsie Babel, maar Daniël was in die paleis van die koning.