TOE roep die profeet Elísa een van die profete-seuns en sê vir hom: Gord jou heupe en neem hierdie kruik met olie in jou hand en gaan na Ramot in Gílead. As jy daar kom, kyk dan waar Jehu, die seun van Jósafat, die seun van Nimsi, is; en gaan in en laat hom opstaan onder sy broers uit en bring hom in 'n binnekamer; neem dan die kruik met olie en giet dit op sy hoof uit en sê: So spreek die HERE: Ek salf jou tot koning oor Israel. Maak dan die deur oop en vlug en vertoef nie. En die jongman, die dienaar van die profeet, het gegaan na Ramot in Gílead. Toe hy aankom, het die owerstes van die leër juis daar gesit; en hy sê: Ek het 'n woord vir u, owerste. En Jehu vra: Vir wie van ons almal? En hy antwoord: Vir u, owerste! En hy het opgestaan en in die huis ingegaan. Toe giet hy die olie op sy hoof uit en sê vir hom: So spreek die HERE, die God van Israel: Ek salf jou as koning oor die volk van die HERE, oor Israel. En jy sal die huis van Agab, jou heer, verwoes, sodat Ek die bloed van my knegte, die profete, en die bloed van al die knegte van die HERE op Isébel kan wreek; en die hele huis van Agab sal omkom, en Ek sal van Agab uitroei al wat manlik is in Israel, sonder uitsondering. Want Ek sal die huis van Agab maak soos die huis van Jeróbeam, die seun van Nebat, en soos die huis van Baésa, die seun van Ahía. En die honde sal Isébel eet op die dorpsgrond van Jísreël, en daar sal niemand wees wat haar begrawe nie. Daarna het hy die deur oopgemaak en gevlug. Daarop gaan Jehu uit na die dienaars van sy heer, en hulle sê vir hom: Gaan dit goed? Waarom het hierdie kranksinnige by u gekom? En hy antwoord hulle: Julle self ken die man en sy gepraat. Maar hulle sê: Leuens! Vertel ons tog. En hy antwoord: So en so het hy met my gespreek en gesê: So spreek die HERE: Ek salf jou as koning oor Israel. Toe neem hulle gou elkeen sy kleed en lê dit onder hom sommer op die trappe neer; en hulle blaas op die ramshoring en sê: Jehu is koning!
Lees II KONINGS 9
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: II KONINGS 9:1-13
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's