II KRONIEKE 20:14-19

II KRONIEKE 20:14-19 AFR53

Toe kom die Gees van die HERE in die midde van die vergadering op Jahásiël, die seun van Sagaría, die seun van Benája, die seun van Jeï-el, die seun van Mattánja, die Leviet uit die kinders van Asaf; en hy het gesê: Luister, almal wat uit Juda is en inwoners van Jerusalem en u, koning Jósafat! So sê die HERE aan julle: Wees nie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot menigte nie, want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God. Trek môre af teen hulle: kyk, hulle kom op met die hoogte Hassis, en julle sal hulle aantref aan die kant van die dal voor die woestyn Jerúel. Julle hoef daarby nie te veg nie; staan gereed, bly staan en aanskou die redding van die HERE by julle, Juda en Jerusalem! Vrees nie en wees nie verskrik nie; trek môre teen hulle uit, en die HERE sal met julle wees. Toe buig Jósafat hom met die aangesig na die aarde toe, en die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het voor die aangesig van die HERE neergeval om die HERE te aanbid. En die Leviete uit die kinders van die Kehatiete en uit die kinders van die Koragiete het opgestaan om die HERE, die God van Israel, met 'n baie groot stem te prys.