I SAMUEL 3:4-11

I SAMUEL 3:4-11 AFR53

het die HERE na Samuel geroep; en hy het geantwoord: Hier is ek. Daarop loop hy na Eli en sê: Hier is ek, want u het my geroep. Maar hy antwoord: Ek het nie geroep nie; gaan slaap maar weer. Hy het toe geloop en gaan lê. Verder het die HERE Samuel weer geroep, en Samuel het opgestaan en na Eli gegaan en gesê: Hier is ek, want u het my geroep. Maar hy antwoord: Ek het nie geroep nie, my seun, gaan slaap maar weer. Maar Samuel het die HERE nog nie geken nie; ook was die woord van die HERE nog nie aan hom geopenbaar nie. En die HERE het Samuel weer geroep vir die derde maal; en hy het opgestaan en na Eli gegaan en gesê: Hier is ek, want u het my geroep. Toe merk Eli dat die HERE die seun geroep het. Daarom het Eli vir Samuel gesê: Gaan lê, en as Hy jou roep, moet jy antwoord: Spreek, HERE, want u kneg hoor. Toe het Samuel geloop en op sy plek gaan lê. Toe het die HERE gekom en gaan staan en geroep soos die vorige kere: Samuel, Samuel! En Samuel het geantwoord: Spreek, want u kneg hoor. Toe het die HERE aan Samuel gesê: Kyk, Ek gaan 'n ding doen in Israel waarvan elkeen wat dit hoor, se twee ore sal tuit.