I KONINGS 12:25-33

I KONINGS 12:25-33 AFR53

En Jeróbeam het Sigem op die gebergte van Efraim gebou en daarin gewoon, en daarvandaan uitgetrek en Pnuel gebou. EN Jeróbeam het in sy hart gesê: Nou sal die koningskap na die huis van Dawid terugkeer: as hierdie volk opgaan om offers te bring in die huis van die HERE in Jerusalem, dan sal die hart van hierdie volk terugkeer na hulle heer, na Rehábeam, die koning van Juda, en hulle sal my om die lewe bring en teruggaan na Rehábeam, die koning van Juda. Daarom het die koning raad gehou en twee goue kalwers gemaak en aan hulle gesê: Julle het lank genoeg opgegaan na Jerusalem — hier is, o Israel, jou gode wat jou uit Egipteland laat optrek het! En die een het hy in Bet-el opgerig en die ander in Dan opgestel. En hierdie saak het tot sonde geword; ja, die volk het voor die een gaan aanbid tot by Dan. Hy het ook tempels van die hoogtes gebou en priesters aangestel uit al die dele van die volk wat nie uit die seuns van Levi was nie. En Jeróbeam het 'n fees gehou in die agtste maand, op die vyftiende dag van die maand, soos die fees wat in Juda was, en op die altaar geklim. So het hy in Bet-el gedoen en geoffer aan die kalwers wat hy gemaak het, en ook in Bet-el priesters aangestel vir die hoogtes wat hy gemaak het. En hy het geklim op die altaar wat hy in Bet-el gemaak het, op die vyftiende dag in die agtste maand, in die maand wat hy uit sy eie hart versin het, en vir die kinders van Israel 'n fees ingestel en op die altaar geklim om offerrook te laat opgaan.