1 Konings 12:25-33

1 Konings 12:25-33 AFR20

Jerobeam het Sigem in die heuwelland van Efraim versterk en daarin gaan woon. Toe het hy daarvandaan uitgetrek en Pniël versterk. Jerobeam het in sy hart gesê: Nou gaan die koningskap terugkeer na die huis van Dawid. As hierdie volk optrek om offers te bring in die huis van die HERE in Jerusalem, sal die harte van hierdie volk terugkeer na hulle heer, na Rehabeam, die koning van Juda. Hulle sal my doodmaak en teruggaan na Rehabeam, die koning van Juda. Nadat die koning raad gevra het, het hy twee goue kalwers laat maak en vir die mense gesê: “Lank genoeg het julle nou na Jerusalem opgetrek! Hier is jou gode, Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het! ” Hy het die een in Bet-El geplaas; die ander een het hy in Dan geplaas. Hierdie saak het tot sonde gelei; die volk het selfs tot in Dan gegaan om voor die een daar te aanbid. Verder het Jerobeam tempels op die offerhoogtes opgerig en priesters aangestel uit alle dele van die volk. Hulle was nie uit die nageslag van Levi nie. Jerobeam het 'n fees ingestel in die agtste maand, op die vyftiende dag van die maand, soortgelyk aan die fees wat in Juda gehou is. Hy het self op die altaar geklim. So het hy in Bet-El gemaak – om te offer aan die kalwers wat hy gemaak het. Hy het in Bet-El die priesters van die offerhoogtes wat hy opgerig het, laat diens doen. Hy het op die altaar geklim wat hy in Bet-El opgerig het op die vyftiende dag van die agtste maand, in die maand wat hy in sy eie hart versin het. Ja, hy het 'n fees ingestel vir die Israeliete en op die altaar geklim om 'n offer te verbrand.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid