I KORINTHIËRS 12:14-31

I KORINTHIËRS 12:14-31 AFR53

Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie. As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie — behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? En as die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie — behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? As die hele liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As dit geheel en al gehoor was, waar sou die reuk wees? Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het. As almal een lid was, waar sou die liggaam wees? Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam. En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie. Maar veel eerder is dié lede van die liggaam noodsaaklik wat die swakste lyk; en dié lede van die liggaam wat vir ons minder eerbaar lyk, beklee ons met oorvloediger eer, en so het ons onsierlike lede oorvloediger sierlikheid, terwyl ons sierlike lede dit nie nodig het nie; maar God het die liggaam saamgestel en aan die misdeelde lid oorvloediger eer gegee, sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra. En as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly. Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik. En God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van gesondmaking, helpers, regeringe, allerhande tale. Almal is tog nie apostels nie, almal is tog nie profete nie, almal is tog nie leraars nie, almal is tog nie kragte nie? Het almal genadegawes van gesondmaking, spreek almal in tale, kan almal dit uitlê? Maar beywer julle met die oog op die beste gawes; en ek wys julle 'n nog uitnemender weg.