1 KORINTIËRS 12:14-31

1 KORINTIËRS 12:14-31 NLV

Ja, die liggaam bestaan nie net uit een ledemaat nie, maar uit baie. As die voet sou sê: “Omdat ek nie die hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” maak dit hom tog nie minder deel van die liggaam nie. En as die oor sou sê: “Omdat ek maar net ’n oor is en nie ’n oog nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” maak dit hom tog geensins minder deel van die lig-gaam nie. Veronderstel ’n mens se hele liggaam sou uit ’n oog bestaan – hoe sal jy dan hoor? Of as jou hele liggaam net een groot oor sou wees – hoe sou jy enigiets kon ruik? Maar nou het God dit so beskik dat daar verskillende ledemate sal wees en dat elkeen van hulle sy eie plek in die liggaam sal hê, soos Hy dit goedvind. As alles net een ledemaat was, dan sou daar mos geen liggaam kon wees nie! Ja, daar is baie lede, maar net een liggaam. Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek kan sonder jou klaarkom” nie. En op sy beurt kan die kop nie vir die voete sê: “Ek kan sonder julle klaarkom” nie. Om die waarheid te sê, juis daardie liggaamsdele wat vir ons onbelangrik lyk, is des te meer noodsaaklik. En die dele van ons liggaam wat ons as minder eervol beskou, beklee ons met groter sorg. Op hierdie manier beskerm ons daardie dele waarvoor ons skaam is, vir die oë van ander, terwyl ons ander lede dit nie nodig het nie. God het dus ons liggaam so kunstig saamgestel dat daardie liggaamsdele wat eer kortkom, juis dubbele eer kry. Gevolglik heers daar harmonie in ons liggaam en al die liggaamsdele sorg saam vir mekaar. As een ledemaat swaarkry, kry al die ledemate saam swaar, en as een ledemaat vereer word, juig al die lede saam. Julle is Christus se liggaam en elkeen van julle is ’n noodsaaklike liggaamsdeel. Hier volg nou ’n lys van sommige van die “liggaamsdele” wat God aan sy gemeente gegee het: eerstens die apostels, tweedens die profete, derdens dié wat onderrig gee, dan dié wat wonders doen, dié met gawes van genesing, dié wat ander ondersteun, dié wat leiding gee, dié wat in tale praat. Ons is mos nie almal apostels nie. Ons is nie almal profete nie. Ons het nie almal die gawe om onderrig te gee nie. Ons het nie almal die vermoë om wonders te verrig nie. Ons het nie almal gawes van genesing nie. Ons kan nie almal in tale praat nie. Ons kan nie almal tale uitlê nie. In alle geval – konsentreer op die nuttigste gawes. Maar laat ek julle nou eers vertel waar die eintlike geheim lê.