EN dit is hulle wat na Dawid na Siklag gekom het toe hy nog uit die teenwoordigheid van Saul, die seun van Kis, verban was; hulle was ook onder die helde wat gehelp het in die oorlog,
gewapend met die boog, wat regter- en linkerhand kon gebruik met slingerstene en met pyl en boog; hulle was uit die broers van Saul uit Benjamin:
Ahiëser, die hoof, en Joas, seuns van Semáä, die Gibeatiet; en Jésiël en Pelet, seuns van Asmáwet; en Béraga en Jehu, uit Ánatot;
en Jismája, die Gibeoniet, 'n held onder die dertig en hoof oor die dertig; en Jeremia en Jahásiël en Jóhanan en Jósabad, uit Gedéra;
Elehúsai en Jérimot en Beálja en Semárja en Sefátja, uit Harif;
Élkana en Jissía en Asáreël en Joëser en Jasóbeam, die Koragiete;
en Joëla en Sebádja, die seuns van Jeróham, uit Gedor.
Ook van die Gadiete het hulle afgeskei na Dawid, na die bergvesting in die woestyn, dapper manne, krygsmanne in die oorlog, toegerus met skild en spies, en hulle gesigte was leeugesigte en hulle was vinnig soos gemsbokke op die berge:
Eser, die hoof, Obádja, die tweede, Elíab, die derde;
Masmánna, die vierde, Jeremia, die vyfde;
Áttai, die sesde, Éliël, die sewende;
Jóhanan, die agtste, Élsabad, die negende;
Jeremia, die tiende, Magbánnai, die elfde.
Hulle was uit die seuns van Gad, hoofde oor die leër; een teen honderd, die kleinste; en die grootste, een teen duisend.
Dit is hulle wat deur die Jordaan gegaan het in die eerste maand terwyl hy vol was oor al sy walle; en hulle het al die bewoners van die laagtes verjaag teen die ooste en teen die weste.
En toe daar uit die seuns van Benjamin en Juda na die bergvesting na Dawid kom,
het Dawid uitgegaan hulle tegemoet en gespreek en vir hulle gesê: As julle met vrede na my kom om my te help, sal ek my van harte met julle verenig; maar as dit is om my aan my teëstanders te verraai, ofskoon daar geen onreg in my hande is nie — mag die God van ons vaders dit dan sien en straf!
Toe het die Gees Amásai, die hoof van die dertig, vervul, en hy het gesê: Vír u, Dawid, en mét u, seun van Ísai, is ons. Vrede, vrede vir u, en vrede vir die wat u help, want u God help u! Daarop het Dawid hulle opgeneem en hulle aangestel as hoofde van die bende.