Romeine 10:1-15

Romeine 10:1-15 CAB23

Broeders, my hartsbegeerte en gebed tot God vir Israel is dat hulle gered mag word. Want ek getuig van hulle dat hulle 'n ywer vir God het, maar nie volgens kennis nie. Want omdat hulle die geregtigheid van God onkundig was en besig was om hulle eie geregtigheid te vestig, het hulle hulle nie aan die geregtigheid van God onderwerp nie. Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo. Want Moses beskryf die geregtigheid wat uit die wet is, dat die mens wat hierdie dinge doen, daardeur sal lewe. Maar die geregtigheid wat uit die geloof is, spreek so: Moenie in jou hart sê: Wie sal in die hemel opvaar nie? (dit is, om Christus van bo af te bring:) Of: Wie sal in die diepte afdaal? (dit wil sê om Christus weer uit die dood op te wek.) Maar wat sê dit? Die woord is naby jou, in jou mond en in jou hart: dit is die woord van die geloof wat ons verkondig; As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word. Want met die hart glo mens tot geregtigheid; en met die mond word tot redding bely. Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie. Want daar is geen verskil tussen die Jood en die Griek nie, want dieselfde Here is oor almal ryk vir almal wat Hom aanroep. Want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Hoe sal hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? en hoe sal hulle glo in Hom van wie hulle nie gehoor het nie? en hoe sal hulle hoor sonder 'n prediker? En hoe sal hulle preek as hulle nie gestuur word nie? soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig en die goeie tyding bring!

Video vir Romeine 10:1-15

Gratis leesplanne en oordenkings oor Romeine 10:1-15