Romeine 10:1-15

Romeine 10:1-15 AFR20

Broers, my hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle verlos mag word. Ek kan inderdaad vir hulle getuig dat hulle God met ywer dien, maar sonder insig. Omdat hulle die •geregtigheid wat van God af kom, nie begryp nie, en probeer om hulle eie geregtigheid tot stand te bring, het hulle hulle nie onderwerp aan die geregtigheid wat van God af kom nie. Die einddoel van die wet is immers •Christus, tot regverdiging van elkeen wat glo. Moses skryf immers van die geregtigheid wat op grond van die wet verkry word: “Die mens wat hierdie dinge doen, sal hierdeur leef.” Maar die regverdiging deur die geloof word so verwoord: “Moenie in jou hart sê, ‘Wie sal na die hemel opgaan?’ ” – met die bedoeling om •Christus af te bring – “of, ‘Wie sal na die onpeilbare diepte afdaal?’ ” – met die bedoeling om Christus uit die dood terug te bring nie. Nee, wat sê dit? “Hier by jou is die woord, in jou mond en in jou hart” – dit is die woord van geloof wat ons verkondig. Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word. Want met die hart glo ons, en word so regverdig verklaar; met die mond bely ons, en word so verlos. Die Skrif sê tog: “Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.” Dit maak inderdaad geen verskil of jy 'n Jood of 'n Griek is nie. Ons het almal dieselfde Here, en Hy deel sy rykdom uit aan almal wat Hom aanroep. Want “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word.” Hoe kan hulle Hom dan aanroep, as hulle nie tot geloof in Hom gekom het nie? En hoe kan hulle in iemand glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder iemand wat dit verkondig? En hoe kan hulle dit verkondig as hulle nie gestuur word nie? Soos daar geskryf staan: “Hoe lieflik is die voetstappe van diegene wat die goeie boodskap verkondig!”

Video vir Romeine 10:1-15

Gratis leesplanne en oordenkings oor Romeine 10:1-15