En toe Jesus daarvandaan weggaan, sien Hy 'n man met die naam van Matteus by die tolhuis sit; en Hy sê vir hom: Volg My. En hy het opgestaan en hom gevolg. En terwyl Jesus in die huis aan tafel was, kom daar baie tollenaars en sondaars en gaan sit saam met Hom en sy dissipels. En toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir sy dissipels: Waarom eet julle Meester saam met tollenaars en sondaars? Maar toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: Die wat gesond is, het nie 'n geneesheer nodig nie, maar die wat siek is. Maar gaan leer wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offer nie, want Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering. Toe kom die dissipels van Johannes na Hom en sê: Waarom vas ons en die Fariseërs dikwels, maar u dissipels vas nie? En Jesus sê vir hulle: Kan die bruilofskinders treur solank die bruidegom by hulle is? maar daar sal dae kom dat die bruidegom van hulle weggeneem sal word, en dan sal hulle vas. Niemand sit 'n stuk nuwe lap aan 'n ou kleed nie, want wat ingegooi word om dit vol te maak, neem uit die kleed, en die skeur word vererger. Die mense gooi ook nie nuwe wyn in ou sakke nie; anders breek die sakke, en die wyn raak op, en die sakke vergaan; maar hulle gooi nuwe wyn in nuwe sakke, en altwee bly behoue.
Lees Matteus 9
Deel
Vergelyk alle weergawes: Matteus 9:9-17
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's