Matteus 9:9-17

Matteus 9:9-17 AFR20

Toe Jesus van daar af verder gaan, sien Hy 'n man met die naam Matteus by die tolhuis sit en sê vir hom: “Volg My!” En hy het opgestaan en Hom gevolg. Toe Hy in die huis vir ete aanleun, het daar onverwags ook baie •tollenaars en sondaars opgedaag en saam met Jesus en sy dissipels vir ete aangeleun. Die •Fariseërs het dit gesien en vir sy dissipels gevra: “Waarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars?” Toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Gesonde mense het nie 'n dokter nodig nie, maar wel die siekes. Gaan leer wat beteken, ‘Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie.’ Ek het immers nie gekom om •regverdiges te roep nie, maar sondaars.” Toe het Johannes se dissipels na Jesus gekom en gesê: “Waarom vas ons en die •Fariseërs gereeld, maar u dissipels vas nie? ” Jesus het hulle geantwoord: “Die bruilofsgaste kan tog nie treur terwyl die bruidegom by hulle is nie? Maar daar kom 'n tyd wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word, en dan sal hulle vas. “Niemand werk 'n ongekrimpte stuk lap op 'n ou kledingstuk vas nie; want die lap trek los van die kledingstuk, en 'n groter skeur ontstaan. “'n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou leersakke nie; anders bars die sakke oop, die wyn loop uit en die sakke gaan tot niet. Nee, 'n mens gooi nuwe wyn in nuwe leersakke, en beide bly behoue.”