Levitikus 5:10-18

Levitikus 5:10-18 CAB23

En hy moet die tweede as brandoffer berei volgens die voorskrif; en die priester moet vir hom versoening doen vir sy sonde wat hy gedoen het, en dit sal hom vergewe word. Maar as hy nie twee tortelduiwe of twee jong duiwe kan bring nie, moet hy wat gesondig het, as sy offer 'n tiende van 'n efa fynmeel as sondoffer bring; hy mag geen olie daarop gooi nie en geen wierook daarop gooi nie, want dit is 'n sondoffer. Dan moet hy dit na die priester bring, en die priester moet sy handvol daarvan neem, 'n gedenkoffer daarvan, en dit op die altaar aan die brand steek volgens die vuuroffers aan die HERE: 'n sondoffer is dit. En die priester moet vir hom versoening doen met betrekking tot sy sonde wat hy in een hiervan gesondig het, en dit sal hom vergewe word; en die oorblyfsel moet aan die priester as spysoffer behoort. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: As 'n siel 'n oortreding pleeg en uit onkunde sondig in die heilige dinge van die HERE; dan moet hy as skuldoffer vir die HERE 'n ram sonder gebrek uit die kleinvee bring, volgens jou skatting in sikkels silwer, volgens die sikkel van die heiligdom, as skuldoffer. En hy moet die skade wat hy in die heiligdom gedoen het, regmaak en die vyfde deel daarby voeg en dit aan die priester gee; en die priester moet vir hom versoening doen met die skuldofferram en dit sal hom vergewe word. En as 'n siel sondig en enige van hierdie dinge doen wat deur die gebooie van die HERE verbied word; al het hy dit nie geweet nie, tog is hy skuldig en sal sy ongeregtigheid dra. En hy moet 'n ram sonder gebrek uit die kleinvee, volgens jou skatting, as skuldoffer na die priester bring; en die priester moet vir hom versoening doen vanweë sy onkunde waarin hy fouteer en dit nie geweet het nie, en dit sal wees hom vergewe.