Sagaria 9:9-17

Sagaria 9:9-17 AFR20

Juig, dogter van Sion! Jubel, dogter van Jerusalem! Kyk, jou koning kom na jou toe: hy is regverdig en die oorwinnaar; hy is nederig en ry op 'n donkie, op die hingsvul van 'n donkiemerrie. Ek sal die strydwaens uit Efraim verdelg en die perde uit Jerusalem; ook die strydboog sal verwoes word. Hy sal vrede aan die nasies verkondig. Sy ryk sal van see tot see strek, en van die Rivier tot aan die uithoeke van die aarde. “En verder, Sion, op grond van die bloed van jou verbond met My sal Ek jou gevangenes uit 'n waterlose opgaarput vrylaat. Julle hoopvolle gevangenes, keer terug na die vesting! Verder maak Ek vandag bekend: Ek sal jou dubbeld beloon. Want Juda span ek vir my soos 'n boog en Efraim is die pyl waarmee ek aanlê. Ek stel jou seuns, Sion, op teen jou seuns, Griekeland. Ek maak jou, Sion, soos die swaard van 'n krygsheld.” Dan sal die HERE bo hulle verskyn – soos weerlig sal sy pyl trek. Die HERE, die Heer, sal op die •ramshoring blaas – in die stormwinde van die suide sal Hy opruk. Die HERE, Heerser oor alle magte, sal hulle beskerm – hulle sal die vyand verslind en met klippe uit 'n slingervel onderwerp. Hulle sal drink en luidrugtig wees soos by 'n wyndrinkery. Hulle sal bloed drink soos wyn, Hulle sal vol word soos 'n offerbak, en vol bloed wees soos die hoeke van 'n altaar. Op daardie dag sal die HERE, hulle God, hulle verlos as sy volk, sy kudde, want hulle is die juwele van 'n kroon wat glinster oor sy grondgebied. Waarlik, hoe goed en hoe mooi sal dit wees! Koring sal die jong mans laat gedy, en •nuwe wyn die jongmeisies.