Titus 3:3-15

Titus 3:3-15 AFR20

Want ons was ook voorheen onverstandig, ongehoorsaam, verdwaal, verslaaf aan allerlei begeertes en luste. Ons het in kwaadwilligheid en naywer geleef, ons was haatlik en het mekaar gehaat. Maar toe die goedheid en menseliefde van God, ons Verlosser, verskyn, het Hy ons verlos – nie op grond van werke wat ons uit •geregtigheid gedoen het nie, maar op grond van sy ontferming – by wyse van die afwassing deur die weergeboorte en vernuwing deur die Heilige Gees, wat Hy ryklik oor ons uitgegiet het deur Jesus •Christus, ons Verlosser. So het ons, geregverdig deur sy genade, erfgename geword van die ewige lewe waarop ons hoop. Dié uitspraak is betroubaar. Ek wil hê dat jy hierdie dinge moet benadruk, sodat hulle wat in God glo, daarop bedag sal wees om hulle aan goeie werke toe te wy. Hierdie dinge is goed en voordelig vir die mense. Vermy egter onsinnige dispute en geslagsregisters en stryery en haarklowery oor die wet, want dit is nutteloos en sinloos. As iemand verdeeldheid saai, wys hom ná 'n eerste en tweede vermaning weg, omdat jy weet dat so 'n persoon op 'n verkeerde pad is en sonde doen; hy veroordeel homself. Wanneer ek Artemas of Tigikus na jou stuur, haas jou om na my te kom in Nikopolis, want ek het besluit om daar te oorwinter. Help ook vir Senas, die regsgeleerde, en vir Apollos, na die beste van jou vermoë, vooruit op hulle reis, sodat hulle niks kortkom nie. Ons mense moet ook leer om hulle met goeie werke besig te hou, vir die voorsiening van noodsaaklike behoeftes, sodat hulle lewe nie vrugteloos sal wees nie. Almal by my stuur vir jou groete. Groet hulle wat vir ons in die geloof liefhet.