Hooglied 8:1-12

Hooglied 8:1-12 AFR20

Was jy maar vir my soos 'n broertjie wat aan my ma se borste drink. As ek jou buite teëkom en soen, sou niemand my kwalik neem nie. Ek sou jou lei, jou na my ma se huis neem, sy wat my geleer het. Ek sou vir jou kruiewyn gee om te drink, die sap van my granate. Sy linkerarm is onder my kop, sy regterarm omhels my. Meisies van Jerusalem, ek besweer julle: Moenie die liefde aanwakker nie, moet dit nie opwek nie, voordat dit nie self wil ontwaak nie. Wie is dit wat daar uit die woestyn kom aan die arm van haar liefste? Onder die appelboom laat ek jou ontwaak: Daar het jou ma met jou swanger geraak, daar het sy wat swanger was jou in die wêreld gebring. Dra my soos 'n rolseël teen jou hart, soos 'n rolseël aan jou arm; want liefde is kragtig soos die dood, hartstog meedoënloos soos die •doderyk – die liefdesgloed is 'n vlammende vuur, 'n verterende vlam. Baie water kan die liefde nie blus nie, riviere kan dit nie wegspoel nie. As iemand alles in sy huis aanbied in ruil vir liefde, sal hy diep verag word. Ons het 'n jong sustertjie, nog sonder borste. Wat sal ons vir ons sustertjie doen die dag wanneer om haar hand gevra word? As sy 'n muur is, sal ons 'n silwerverskansing op haar bou; en as sy 'n deur is, sal ons haar met sederplanke afsper. Ek is 'n muur, en my borste soos torings; toe word ek vir hom soos 'n stad wat vrede aanbied. Salomo het 'n wingerd besit by Baäl-Hamon. Hy het opsigters aangestel wat duisend silwerstukke vir die vruggebruik moes betaal. My eie wingerd is voor my. Die duisend silwerstukke is vir jou, Salomo, en tweehonderd vir hulle wat die vrugte oppas.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid